“YOUR wish is my command” was dikwels Dries se reaksie op ’n versoek van my - ’n effe onverantwoordelike versoek rakende sy voertuie is egter summier geweier - daarom het hy dadelik die begeerde brug in die tuin gebou. Tipies hý; was dit koste-effektief, stewig en doelmatig.
Waardering en aanvaarding vir die poging het ek jare lank geoefen. Op die lange duur kon my andersoortige binneste nie daarmee regkom nie. Handvaardige en kreatiewe Middelkind is toe genader vir die oplossing. Hy kon egter nie die nut insien van so ’n konstruksie nie. Tuis-vakansies is baie lekker en nie bedoel vir ekstra werk nie. Na vier jaar se wag het ek, vrou alleen in Mei 2010 die brug gebou presies soos ek dit jare gelede in my kop aanmekaargesit het; spesiaal behandelde houtpale vir die effe ongewoon en groot raamwerk met stutpale self “ingekonkryt,” volgens my pa se riglyne, in 60cm diep gate wat ek gegrawe het. Miss Marathon, ons Oudtshoornse skoondogter het die buikplanke help vasskroef en ek het die vernis aangeverf. Alles onder die wakende oog van Hopzing en Denise; beide vol lof vir my projek. Ná nege dae se bykans onuithoubare fisiese inspanning vir ’n ses-en-sestigjarige oumalyf, was die brug klaar en kon ek en Dries saam daaroor stap, vol verwondering waartoe ’n mens in staat is as jy iets wil/moet doen. Ek was dankbaar vir die genade aan my toebedeel.
’n Brug is ’n verbinding tussen twee punte wat andersins onbereikbaar sou wees. Die belangrike konstruksie word ontwerp en gebou deur kundiges. Die redes vir ’n brugverbinding is nie altyd eerlik nie; daar is soms versteekte motiewe by die inisieerders en in sekere oorlogsituasies word ’n brug vinnig gelê en dadelik weer opgebreek agter die troepe. Brûe is steeds die ontsnaproete uit onhoudbare politieke omstandighede en eindig dikwels in ontnugtering vir die vlugtelinge. ’n Brug word selde gebou net vir die mooi en lekker oor idilliese en veilige deurgange - tog is daar sulkes in bv Japanese landskapstuine.
Onbewustelik is ons daagliks besig om brûe te bou na die harte van ander mense deur middel van woord en daad teenoor hulle met wie ons paaie kruis of ons geliefdes saam met ons op die lewenspad. Afhangende van die karaktereienskappe en persoonlikheid van ’n individu asook die verhouding waarin mense teenoor mekaar staan, geskied hierdie bouproses op verskillende maniere. Daar is selfs verskuilde motiewe om die persoon te gebruik tot jou voordeel. Die uiterste voorbeeld hiervan is die Dewani moord. Diplomatieke brûe wat oor kontinente gebou word, is ook eie belang; Dries het altyd gesê: “Geen land het permanente vriende nie, net permanente belange”. In ’n onbewaakte oomblik kan jy selfs ’n brug agter jou verbrand; dit geld polities ook.
In ons 45 huweliksjare het Dries baie brûe gebou na menseharte. Soos sy tuinbrugpoging was dit onmiddellik, stewig, koste-effektief en doelmatig. Elkeen wat daaroor wou stap na hom toe het presies geweet hoe sterk die struktuur is en van watter materiaal. Ek beleef nóú die totale omvang daarvan. Oor die hele spektrum van die samelewing - uit alle bevolkingsgroepe, politieke oortuigings en godsdiensgroepe, kom dit na my toe.
In ons vallei is baie brûe wat gebou moet word. ’n Beter tyd is daar nie as juis nóú wanneer Christene die geboorte vier van die grootste brugbouer van alle tye terwyl die sekulêre wêreld dit uitbuit vir finansiële gewin en leeglê dae met oorvloed kos en drank. Ter wille van goeie gewete of beeld na buite, gee sommige duisende rande en vragte geskenke uit die oorvloed wat deur die jaar verdien is uit die bloedgeld van hulle vir wie dit om den brode gaan.
Gebruik die Meesterbouer as voorbeeld en bou net een brug hierdie seisoen na ’n ander mensehart en kyk hoe word die verkeer gestroomlyn tussen volksgenote.