UITEET is vir baie van ons ’n tydverdryf en vir ander ’n noodsaaklike sosiale verpligting, maar vir die arme kelner(in) is dit dikwels die mees ondankbare dagtaak wat hy of sy al ooit moes verrig!
Die meeste kelners doen dié soort werk slegs om ’n broodnodige inkomste te kan verdien.
Dikwels is daar die groep eters: die kantoor-groep, die sosiale groep of die gaste- groep. Laasgenoemde kry jy veral by onthale. Restaurante verplig gewoonlik hulle kliënte om vir die kelners, wat die groep(e) bedien, ’n fooitjie in te sluit. Maar hoe gemaak by troues en onthale? Nee wat, die kelner moet tot watter tyd van die oggend nog staan en afdek en oppak of skoonmaak en word dikwels net die karige uurloon betaal. Geen fooitjies vir dié manne en vroue nie!!
My eintlike betoog is nie die kwessie van fooitjies nie, maar die praktyk wat besighede toepas om die kelner(in) te verplig om ’n deel van die kredietkaartkoste te absorbeer!! Dis vir my meer skandelik as die kliënte wat nie ’n fooitjie laat nie.
In die Paarl is daar van die GROOT naam restaurante wat eenvoudig 1% van die totale rekening van die kelner(in) vereis indien die kliënt met ’n kaart betaal!
Volgens my inligting is dit strydig met die voorwaardes wat ooreengekom is met die diensverskaffer (die bank). Die besigheid betaal wel ’n persentasie fooi vir die kaartfasiliteit, maar dit mag nie addisioneel van die klient verhaal word nie en sekerlik ook nie van die kelner(in) nie.
Selde of ooit laat die “take away” besteller ‘n fooitjie vir sy of haar bestelling, maar as hy of sy met ’n kaart betaal is dit die kelner(in) wat die rekening moet help subsidieer! Het restauranteienaars geen gewete oor die skaamtelose uitbuiting nie? Hoe regverdig hulle die praktyk?
Indien hulle verkies om in kontant betaal te word, moet hulle eenvoudig die kliënte daaroor inlig of ’n afslag (minstens gelykstaande aan die 5% kaartkoste) aanbied vir kontantbetalende kliënte. Om kontant te betaal hou ‘n risiko vir die restauranteienaar in.
Kriminele gaan beslis weet watter eetplekke werk met groot kontant bedrae, dit kos net een insident om jou kliënte so af te skrik dat jy maar deure kan toemaak!!!