EK wil net baie dankie sê vir die flink optrede van die polisie in die Paarl. Vrydagoggend, terwyl ek wag vir die bus van Kimberley by Monument Motors het ons vinnig ’n koffie gaan kry by die winkel daar.
Terwyl ons in die winkel is, het ’n vrou (ouer as 80) skielik flou geval. ’n Jong man het onmiddellik haar gehelp en vir haar ’n bottel water gekoop. Ek het hand bygesit om haar met ’n nat lappie af te koel.
Die polisie was toevallig in die winkel en inspekteur Sass en sy manne het die vrou gehelp om op ’n stoel te sit. Inspekteur Sass het alles gereël en binne minute was daar ’n ambulans om die vrou te stabiliseer.
Die vrou is van die Strand en het vir haar dogter gewag wat op die bus van Kimberley onderweg was na die Paarl. Daar was selfs ’n ander vrou wat haar rolstoel opgegee het en haar loopring gebruik het, sodat die vrou die rolstoel kon gebruik.
Inspekteur Sass het gereël dat ’n voertuig die vrou terugneem na die Strand en ook ’n bestuurder vir haar motor gereël.
Daar was nog mense van die Strand, en hulle het toe aangebied om die vrou se dogter huis toe te neem. Die werkers van die winkel was ook baie behulpsaam.
Ek wil ook dankie sê vir almal wat gehelp het. Dit was werklik pragtig om te sien hoe almal so fantasties saamgewerk het.
Koos Labuschagne