KINDERS wat nie meer langer kan wag om vir Kersvader te ontmoet nie, kan ’n vroeë Kersfees beleef tydens die volmaanpiekniek by die Taalmonument in die Paarl op Dinsdag 21 Desember.
Ouers kan ’n gratis spasie in Kersvader se Kerskous bespreek vir hul kinders se geskenke.
Om die aand verder opwindend te maak, word besoekers aangemoedig om groen of rooi klere aan te trek om ’n lekker Kersfees-atmosfeer te verseker. Pryse is op die spel vir diegene met die beste uitrusting in verskillende ouderdomskategorieë.
Die volmaanpiekniek is baie gewild onder piekniekgangers omdat dit ’n asemrowende sonsondergang en naguitsig van die vallei inhou.
Die son sak om 19:57, wat sowat 18 minute van donkerte laat totdat die maan om 20:15 sy verskyning maak. ’n Begeleide Monumenttoer sal om 18:30 aangebied word. Die Monument sal tot om 22:00 oop wees.
Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjie saam te bring of om een by Volksmond Koffiewinkel te bestel (021-863-2800 of volksmond@taalmuseum.co.za). Koffie sal te koop wees by ’n snoepie op die grasperk. Geen honde en vure word toegelaat nie.
Die toegangsfooi by die hek beloop R12 (R5 vir studente en R2 vir kinders) en geen besprekings is nodig nie. Besoekers moet onthou om flitse en warm klere saam te bring. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer.
Volmaanpieknieks vind in 2011 plaas op Vrydag 21 Januarie (maanopkoms 20:59, sonsondergang 19:58), Vrydag 18 Februarie (maanopkoms 19:29, sonsondergang 19:36), en Saterdag 19 Maart (maanopkoms 18:33, sonsondergang 18:59). Die monument is gedurende die somer daagliks oop tot 20:00. Vir navrae oor die Taalmuseum of Taalmonument, skakel 021-872-3441 of besoek www.taalmonument.co.za.