DIE oud-Gimmie wat beweer dat hy deur ’n onderwyser by die skool gemolesteer is in die tagtigerjare, is verbitterd omdat die skool hom nie beskerm het teen dié onderwyser nie, maar toegelaat het dat hy by die skool aanbly selfs nadat die wangedrag op die lappe gekom het.
Johan Hendrickse vertel dat hy op 15-jarige ouderdom herhaaldelik deur die onderwyser van 1982 tot 1983 gemolesteer is, terwyl hy in Huis McFarlane gebly het.
Orale seks is op hom beoefen, en hy is betas en naak afgeneem.
Hy is bewus daarvan dat minstens twee ander leerders ook deurgeloop het.
“Een van hulle se ouers is ingelig deur die skoolhoof, Ockert Lategan, en hy het berading gekry en is weg uit die skool.
“Maar my ouers is nooit ingelig nie, en hoewel die onderwyser aangespreek is, is daar nie dadelik teen hom opgetree nie. Hy was nog in 1989 verbonde aan die skool.
“Dié onderwyser was baie betrokke by atletiek. Hy is by Paul Roos ook onder ’n wolk weg voordat hy na Gim is. ’n Paar jaar later is hy skielik by Gim weg na ’n versekeringsmaatskappy en werk glo vandag as versekeringsmakelaar in Johannesburg.
“Ek was ontsettend getraumatiseer, maar kon nooit daaroor praat nie, omdat die onderwyser my gedreig het indien ek my ouers sou sê. Ek was te bang om te gaan stort.
“Die gevolg is dat ek ontsettend rebels geraak het, selfs gewelddadig, omdat ek gevoel het ek moet my manlikheid bewys.”
Hy het op skool die bynaam Elvis gekry en het drank en steroïedes misbruik.
Hendrickse is ná skool na die vloot. Hy is later getroud en die egpaar het vier kinders gehad, maar hulle is geskei nadat hy sy vrou verkul het.
Hendrickse het eers verlede jaar met berading begin en het onder hipnose die besonderhede van die traumatiese gebeure onthou. Hy het vanjaar besluit om ’n klag teen die onderwyser te lê.
Die polisie het die oortreder opgespoor in Johannesburg, maar daar is bevind dat hy 20 jaar ná ’n misdaad nie meer vervolg kan word nie. Daarom oorweeg Hendricks dit om ’n siviele eis teen die oud-onderwyser in te stel.
Hy meen hy verwerk sy probleme tans deur die oortreding te openbaar.
“Jong seuns moet nie stilbly as dit met hulle gebeur nie - hulle moet daaroor praat en die skuldiges aan die kaak stel.”
) ’n Skoolmaat van Hendrickse, wat nie sy naam genoem wil hê nie, vertel in ’n verklaring dat hy ’n liesbesering gehad het aan die einde van 1983 toe hy begin voorberei het vir die WP Atletiekbyeenkoms.
Volgens hom het dié enkellopende onderwyser met sportbeserings gehelp deur massering.
“Ek het hom gevra om my te help met ’n besering. Hy het gevra dat ek na ligte uit ’n draai by sy kamer moet maak.
“Hy het my op sy bed laat lê en gesê ek moenie skrik vir die nuwe tegniek van behandeling wat hy gaan toepas nie. Die volgende oomblik het hy my broek afgetrek en vieslike dinge met my begin doen.
“Ek het hom weggestamp, my broek opgetrek en uit die kamer gehardloop. In die proses het hy my gewaarsku om niemand van hierdie insident te vertel nie.
Die seun het daarna altyd ’n jagmes by hom gedra, sou die onderwyser weer naby hom kom.
Aan die einde van die 1984 toe die nuwe prefekte begin oorneem, het hy een aand ’n middelvinger agter die onderwyser se rug gewys, waarop die hoofseun hom gekonfronteer het. Alles het daarna op die lappe gekom.
Nadat die seun vertel het wat gebeur het, het die onderwyser hom om verskoning gevra, begin huil en uitgegaan.
Die hoof het na bewering vir hom gevra om nie vir sy ouers daarvan te vertel nie, aangesien die skool dit sou uitsorteer.
“Ek het verlig gevoel dat die skoolhoof ook nou daarvan weet. Daar het egter niks met die onderwyser gebeur nie, waarna ek besluit het om die skool te verlaat en terug te gaan na Bloemfontein, waar my ouers woon.
“Die insident het my vuil, alleen, kwaad en baie gehard gemaak.”