DIE inwoners van die Paarlse buurt Vrykyk, is die josie in nadat hulle onlangs vyf bome in ’n openbare park verloor het.
En dit net omdat enkele inwoners hierdie bome blameer het vir hul niesery.
Die bome, almal seringbome, staan al meer as 30 jaar in die woonbuurt en is die doodsvonnis opgelę op 17 November tydens ’n vergadering van die Uitvoerende Burgemeesterskomitee.
Die besluit om die bome af te kap is geneem deur dié komitee ten spyte van aanbevelings deur die departement van gemeenskapsdienste om hulle nie af te kap nie.
Die bome is glo weens mediese oorwegings afgekap nadat vier inwoners om die park saamgespan het en ‘bewyse’ aan die munisipaliteit voorgelę het.
Kondisies soos hooikoors en chroniese sinusitis word kwansuis deur die spesifieke vyf bome in die openbare park reg oorkant hul huise veroorsaak.
Drie dokters van die dorp het pen op papier geplaas ter ondersteuning van die aansoekers, maar by navraag oor watter wetenskaplike bewyse hulle kan aanvoer om hul pleidooi te ondersteun, kon die dokters nie wetenskaplike bewyse lewer nie. Hulle het verder bygevoeg dat ander faktore wel ook ’n rol kan speel.
Die departement het ’n kundige op hierdie gebied geraadpleeg, prof Brian Bredenkamp van Stellenbosch, wat nou betrokke is by die boombestuur-beleid vir Stellenbosch.
Sy opinie, volgens die verslag, is dat die stuifmeel van lanings seringbome op Stellenbosch ’n baie geringe bydrae maak tot die wolke stuifmeel en insekdoder wat in die vallei sweef tydens die lentemaande.
Seringbome is wel uitheems en mag nie meer geplant word nie.
Maar bome van hierdie ouderdom geniet steeds die beskerming van Drakenstein boom-beleid, maar hierdie beskerming is blatant deur die burgemeesterskomitee geignoreer.
Aan die inwoners wat daaroor gekla het, is glo aangebied om nuwe inheemse bome te plant en dat ’n vergadering met hulle belę sal word om dit te bespreek
Volgens ’n inwoner wat woedend is oor die slagting van die bome, Johann Groenewald, het die raadslede op die komitee nie die mediese of botaniese agtergrond om so ’n besluit te maak nie.
“Dit is waarvoor ons amptenare het wat kundig is op die gebied en wat ander kundiges moet raadpleeg.
“Die amptenare het hul pligte uitgevoer maar die raadslede het dit goed geag om dit te verontagsaam.
Groenewald het ’n webblad geskep waar die dokumentasie relevant tot hierdie aangeleentheid gevind kan word, https://sites.google.com/site/drakensteinbome/home vir meer inligting, of kontak die munisipaliteit vir afskrifte.
Volgens die munisipaliteit het die Uitvoerende Burgemeesterskomitee die reg om enige verslag en aanbevelings van enige departement te verontagsaam en ’n ander besluit te neem, soos in die geval met die besluit oor die bome.
* Residents of Vrykyk, Paarl, are up in arms, after 5 old syringe trees were cut down by the municipality, after four families complained of hay-fever.