Komedie met Frank Opperman
2010-12-15
OP Donderdag 16 Desember om 20:00 is die bekende akteur Frank Opperman weer te sien op die Ou Meul-teater se verhoog in die splinternuwe eenmanstuk, Rooikaart. Ná die sukses van “Die uwe Pottie Potgieter” verras Opperman se vermoë jou weer eens wanneer hy ’n splinternuwe verhoogkarakter skep in die gedaante van Wally Koekemoer. Wally laat jou deurgaans glimlag wanneer hy dinge kwyt raak wat jou onwillekeurig herinner aan iemand in die regte lewe! Wally is die president van ’n plaaslike rugbyklub. Die verhoogstuk speel af in die klub, waar die jaarlikse rugbyprysuitdeling plaasvind. Wally ken omtrent almal in die gehoor en het ’n deurlopende gesprek met hulle. Veral gesels hy met die joernalis van die Herald. Sy plaas gereeld artikels in die koerant wat hom in ’n slegte lig stel - en hy benut die kans om sy kant van die storie te stel. Hy neem sommer sy stellings op band ook op om seker te maak hy word nie verkeerd aangehaal nie. Ongelukkig het Wally teen hierdie tyd reeds ’n paar drankies agter die blad en die waarheid kom effens anders uit as wat hy beplan het. Dana Snyman het homself oortref met die teks van “Rooikaart”, ’’n komedie wat die tannies in die gehoor laat “ag, shame”, ’n komedie wat 10 minute langer speel as die geadverteerde tyd – omdat die gehoor so lekker lag. Behalwe dat dit skreeusnaaks is het die teks ook verskillende lae wat moeiteloos bymekaar gebring word, ’n teks wat maak dat jy doodseker is jy het al een aand saam met Wally om ’n braaivleisvuurtjie gesit en kuier. Die komedie is ook gesinsvriendelik. Gys de Villiers se oog vir regie is besonders en kom uit in die fynste detail - klein dingetjies wat maak dat Wally geloofwaardig bly en nie ’n in aangeklamde karikatuur verander nie. Kaartjies is R100 per persoon en kan bespreek word by Vicky Stemmet by 083-564-0056 of stuur ’n epos na vstem met@gmail.com.
More
News
|