KAN jy die Lotto of Powerball wen as jy nie ’n kaartjie gekoop het nie? Nee, natuurlik nie. Nie in Suid-Afrika nie en ook nie in die Verenigde Koninkryk (UK) oftewel Brittanje nie.
Lesers ontvang gereeld e-posse of SMS’e waarin “aangekondig” word dat hulle ’n miljoen pond in die UK Lottery gewen het en wil dan by Aan jou Kant weet of dit dalk waar kan wees. As dit te goed is om waar te wees... bly weg.
Skelms soos ene Hamilton, wat met ’n swaar Afrika-aksent Engels praat en vermoedelik ook homself Donovan, Peter of Fred noem, spits hulle nou op die Weskus toe en teer op mense in armoedige omstandighede om hulle uit hul spaargeldjies te kul.
Soos wat Norman Julies (37), ’n visser van St Helenabaai, vertel, het net die gedagte daaraan dat hy dalk ’n miljoen rand ryker is, hom ’n hele naweek beneweld van geluk gelaat.
Hy het selfs gemaak soos wat “Fred” gesê het en R1400 “deposito” by sy ma geleen om aan die skelm oor te betaal, tot die werklikheid inskop en hy besef dat dit te goed is om waar te wees.
Aan jou Kant vermoed dat “Fred” ook dieselfde mens is wat SMS’e stuur waarin mense se volle name nogal gebruik word en waarin hulle ingelig word dat hulle ’n miljoen pond in die UK Lottery gewen het.
Christo Momsen, advertensieverteenwoordiger op Vredenburg, het so ’n faks gekry en ene M Hamilton teruggebel om te kyk wat gebeur. Hy is toe aangesê om eers R3450 se “clearance” en registrasiefooi te betaal waarna sy miljoen rand oorbetaal sou word. Aan jou Kant het “Fred” ook gebel, maar hy het baie kortaf geraak en die telefoon doodgedruk.
Amper was Julies se ma R1400 armer dié Kersfees en ’n skurk nog ryker. Vee uit, skrap, skeur op – enige e-pos, sms of faks waarin aangekondig word dat jy iets wen, tensy jy self vir die kompetisie ingeskryf het.
Op die faks wat Momsen gekry het kan ’n mens duidelik sien dat die logo’s nie eg is nie.
Stuur asseblief nog voorbeelde van kullery na Aan jou Kant (abuckle@media24.com).