Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nuwejaarswense 2011

Nuwejaarswense 2011
 
2011-01-13


KERSFEES en Nuwejaar is verby, die skole en kolleges het nog nie begin nie. Oor die strate en in die winkels hang ’n doodse verlatenheid.

Ek stap in Kerkstraat af in die rigting van die kerk, verby Victoria­park, die groot publieke park in die sentrale deel van ons dorp, vroegoggend al toegestaan deur smouse op die sypaadjie.

En ek onthou, rondom dié smouse is ’n lang stryd gewikkel om hulle na ’n ander, minder sigbare, maar ewe doeltreffende staanplek te verskuif. Tot dusver tevergeefs.

Victoriapark is vroemôre nog skoon, geen enkele papier of blik in sig nie. Maar werkloses lê vroegoggend al rond, en is, soos altyd, ’n neerdrukkende gesig.

Ek het verneem dat spanne skoonmakers soggens vroeg, ook oor die naweek, die park skoonmaak.

Ek sien hoe ’n man ’n entjie van ’n vuilgoedhouer af ’n leë blik argeloos oor sy skouer gooi; hoe ’n ander ’n leë kospakkie neergooi, net daar op die skoon groen gras. Ek staan op die sypaadjie magteloos en toekyk.

Nou ja, met my vroegoggend-ontmoetings ná Nuwejaar in Kerkstraat, en met al hierdie dinge in gedagte lyk my Nuwejaarswense, hoofsaaklik plaaslik gekleurd, ongeveer só: Behoorlike toesig oor en boetes vir vuilgoedstrooiing. Motorwagte kan ook “gemorswagte” wees, en met die nodige opleiding en toerusting oor ons dorpspleine en oop ruimtes waak.

Beter opleiding vir winkelpersoneel. Hoe om te groet, flink en korrek op te tree, hulpvaardig te wees. ’n Jaarlikse prys vir “die winkelklerk van die jaar,” gemeet aan hierdie standaarde (die Absa-personeel van Wellington by die navrae-toonbank kan gerus genomineer word).

Coke en wit brood word in skole en by sportbyeenkomste verbied. Alle kinders moet weer water drink en bruin brood eet. Ouers word geleer wat coke aan suikervlakke doen.

Die afname in leë blikke en plastiekbottels word merkbaar.

’n Kerkstraat met spoedhobbels en veiliger voetoorgange. Die motors wat Kerkstraat as resiesbaan gebruik, word voorgelê en dieselfde strawwe opgelê as vir dronkbestuur.

Deur die dorp loop ’n oop, skoon Spruitrivier. Kinders speel teen sy walle en mense ontspan aan sy oewers.

Daar is ’n restaurant waar mense sit en wintertye na die geluid van lopende water luister. Die restaurant het twee verdiepings.

Op die boonste verdieping is daar na die ooste ’n uitsig op die berge. Mense sien hoe Groenberg skoongemaak word. Die bloekombos en dennewoud wat al hoër teen sy hange opkruip, word beheer. Spanne werkloses, deur die regering in diens geneem, is aan die werk.

Verder, na die buitewyke van die dorp, word die dorpsgebiede beter beplan. Oop ruimtes, waar kinders kan speel en mense kan ontspan, is verpligtend.

Huise word in sirkels rondom hierdie oop ruimtes gebou. Bome word aangeplant.

Die Perdeskoenpad, die Blouvlei-sirkelpad wat laatmiddag en vroegaand die oefenbaan is vir die stappers, drawwers en fietsryers van ons dorp, het ’n behoorlike voetslaanpad al langs die grootpad waarop stappers, drawwers en fietsryers met groter veiligheid kan oefen.

My nuwejaarswense strek veel verder as dit. My wens vir my dorp, wat ek sien groei het van ’n betreklik stil plattelandse dorp tot ’n bruisende, snel-ontwikkelende gebied, is dié van dinamiese groeikrag, ja, maar dan ’n groei gekoppel aan sindelikheid en goeie diens wat die besoeker of toevallige verbyganger laat terugkeer.

Onrealistiese wensdenkery? Miskien is my wens soos die Bybelse kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ’n boom waarin voëls kom nesmaak.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za