EK wil as belastingbetaler en boorling van Newton net my dank oordra aan Drakenstein Munisipaliteit vir die poging wat aangewend word om sypaadjies te teer. Maar graag wil ek weet wat die spesifikasies sê, want as met vertroue oorgedra word dat hulle 1,6 meter teer, is die afwyking kommerwekkend.
Ek kan verstaan die probleem in Newtonstraat waar eienaars oor die grenslyn gegaan het. Ek wil net weet of daar deurlopend seker gemaak word dat aan die tenderspesifikasies voldoen word alvorens betaling geskied as beleidsvoorskrif? Hulle het so pas in Skoolstraat begin, maar dit wat uitgegrawe is, is slegs 1,4 meter of selfs minder.
My verdere bekommernis is dat die hele sypaadjie nie geteer word tot waar ’n permanente struktuur (bv. betonmuur) voorkom nie. Ek vind dit baie vreemd, want immers behoort die sypaadjie aan die Raad. Verlede jaar toe Valleistraat geteer was, is ‘n strook van sowat 300mm oopgelaat.
Ek het dit opgeneem met die plaaslike Raadslid wie toe kon insien hoe onlogies, onprakties en onverstaanbaar dit was.
Ek het toe voorgestel dat die Tendervoorskrifte (spesifikasies) baie maklik aangepas kon word met onderhandelinge wat toe wel ’n paar dae later gerealiseer het.
My vraag nou: Waarom dit ook nie nou met die huidige kontrak van toepassing maak nie? Ek het ook verneem dat die sypaadjie aan die een kant reeds meters uitgegrawe is (sowat 20m) en skynbaar aan die verkeerde kant is en toegegooi moet word. Ook dat dit 1,8 meter moet wees en nie soos bovermeld nie.
Waarom toegooi as Buitekantstraat ook soortgelyks voorberei is (oostekant) waar beide kante van die straat gegrawe is?
HW Petersen