MY ma van 65 jaar oud het onlangs ’n tas van R359 gekoop by Maselli in Paarl Mall. Die Sondag toe ons die klere in die tas pak en in die motor wou laai, breek die handvatsel af toe ek die tas optel.
Sondag was die winkel reeds toe, toe ek die tas wou gaan terugneem.
Maandag kom ek by die winkel en moet hoor dat hulle nie my geld gaan teruggee nie of die tas gaan vervang nie, want daar is geen terugbetalings op uitverkopingsprodukte nie, want dit is nie gewaarborg, nie.
Toe ek vra hoe kan die handvatsel van ’n nuwe tas net afbreek, toe was die antwoord aan my dat hulle nie weet wat ek in die tas gelaai het nie. Hoeveel klere kan ’n tannie van 65 jaar oud nou inpak?
Ek het twee keer tot by die winkel gery en ek kon steeds nie gehelp word nie.
Ek het hoofkantoor gebel en hulle het ook gesê dat hulle nie die produkte omruil of jou kontant teruggee nie.
Ek wil net die publiek waarsku wat daar wil gaan koop, dat indien jou tas breek, moet jy maar met die stukkende tas opgeskeep sit, want jy gaan nie jou geld terugkry nie. Hulle gaan nie eens jou tas vir jou vervang nie. Dis net so goed jy het hom op straat gekoop! ’n Mens verwag beter van ’n winkel in Paarl Mall.
Tydens die aankoop van die tas is geen melding gemaak daarvan dat daar nie ’n waarborg op uitverkopingprodukte is nie.
Willie
Tersia Wesson, besturende direkteur van Wesson Retail Brands, antwoord: Feitlik al ons produkte kom met ’n waarborg wat deur ons verskaffers gedra word. Van ons tasse kom tot met ’n 5 jaar waarborg en ons neem gereeld items in vir herstel of indien die verskaffer besluit die item moet omgeruil word sal dit verseker omgeruil word.
Wanneer dit by items op uitverkoping kom en die pryse drasties verlaag word, is daar ‘n goeie rede voor. Die produklyn word nie meer gemaak nie en of die verskaffer bestaan nie meer nie. Dus is daar geen waarborg vanaf die verskaffer nie.
Ons verkoop dan die produkte vir onder kosprys en kan dus nie ‘n waarborg dra op die uitverkopingsprodukte nie. Hierdie inligting is ook baie duidelik sigbaar by die betaalpunt in die winkel.
Die tas was reeds afgemerk na R399 en die verkoopsdame het nog ’n verdere 10% op die reeds afgemerkte prys gegee en dus het die tas slegs R359 gekos.
Die prys waarvoor hierdie spesifieke tas verkoop op afslag is minder as wat ons dit by die verskaffers aangekoop het.
Die goedkoopste tasse wat wel met ’n waarborg kom, is ongeveer R1000 geprys. Jammer ons kan nie hierdie kliënt help nie.