OP 26 Desember om 01:30 is my broer met ’n mes gewond. Hy is gehaas na Paarl Hospitaal omdat sy mediese fonds uitgeput was en het bykans ’n uur gewag, maar geen hulp is aan hom verleen nie.
Nadat ek die dokter en susters gevra het hoe lank dit gaan vat voordat hy gehelp gaan word, was daar slegs gesê hy moet sy beurt afwag. Die dokter het agter die lessenaar gesit en skyfies geëet, terwyl my broer besig was om hom dood te bloei en al begin bleek raak het en asemhalingsprobleme ondervind het.
Hy was in ’n kritieke toestand en ons moes noodgedwonge na Paarl MediClinic gaan. Nadat ons by MediClinic aangekom het, het die dokter ons dadelik gehelp en meegedeel dat my broer minstens 3 liter bloed verloor het en sy regterlong het platgeval. Na ONMIDDELIKKE behandeling is hy is weer terugverplaas na Paarl Hospitaal per ambulans.
Die dokter van Paarl MediClinic het met Paarl Hospitaal geskakel en gereël dat hy opgeneem moes word. Met die aankoms by Paarl Hospitaal was die suster aan diens egter baie arrogant en het my pa gevra “Wat soek hy dan nou weer hier?”.
Hy is eers gehelp nadat die nagdienspersoneel reeds afdiens was deur suster Van Wyk wat onmiddellik aandag aan hom geskenk het, en in die oornagsaal opgeneem het.
Op 26 en 27 Desember het hy besoekers ontvang en die vuil lakens het ons kom inwag met die intrapslag van die oornagsaal, en die toilette was so onhigiënies dit het ons glad naar gemaak.
Ek is erg teleurgesteld in die hospitaal, want hulle is kamstig “opgegradeer’’, maar die diens en higiëne is pateties.
Dankie aan dr Portwig en die MediClinic personeel wat daardie nag gewerk het, suster Van Wyk asook dr FS Adams, u omgee word opreg waardeer.
Baie teleurgesteld