Klopse haaks oor geld
2011-01-13
Lise Beyers
NUWEJAARSDAG was die strate van Wellington oudergewoonte versier met die prettige teenwoordigheid van honderde kleurvolle klopse. Maar vanjaar se feesvieringe is geskend deur dreigemente en beskuldigings wat heen en weer tussen troepe gegooi word. Die Pearlites is op die oorlogspad nadat die Wellington Minstrels klopse-groep glo skenkings afkomstig van die Wes-Kaapse regering, asook die Drakenstein Munisipaliteit, wanbestee het. Die Wes-Kaapse regering het R70 000 geskenk, terwyl die munisipaliteit R40 000 uitgehaal het vir ’n oorsese toer na Duitsland. Die toer het nooit gerealiseer nie, en die Pearlites meen dat die skenkings onbehoorlik gebruik is. Hierdie saak is aan die Wes-Kaapse regering gerapporteer en daar is tans ’n ondersoek onderweg om vas te stel presies hoe die gelde gebruik is. ’n Saak van bedrog en diefstal is op hul beurt by die Wellington polisie aanhangig gemaak deur die Pearlites teen die Wellington Minstrels. Die polisie wag tans vir ’n volledige ouditeursverslag na die Minstrels se geldsake voordat die saak verder gevat word. Weens die onmin vanuit die Pearlites-kamp is hulle uit die Wellington Minstrels-groepering geskop en sou vanjaar nie aan die jaarlikse karnaval kon deelneem nie. Die Pearlites het hul egter na die Hooggeregshof gewend en het wel daarin geslaag om ’n tussentydse bevel te bekom om deel te neem aan die karnaval. Maar die ondervoorsitter van die Wellington Minstrels, Danny van Rooyen, het vandeesweek alle aantygings ontken. “Dit is vreemd dat net een uit ons 16 troepe ’n probleem het. “Ons het R1 miljoen rand benodig om al die kostes te dek vir ’n buitelandse toer, maar ons kon nie genoeg geld insamel nie. “Die skenkings van die regering en munisipaliteit is dus gebruik om verskeie gewone kostes te dek, en die res van die geld is regverdig verdeel tussen al die troepe. Ons het niks om weg te steek nie.” * The annual Wellington Minstrel Festival has been marred by in-fighting over funding.
More
News
|