Kleuter sterf in vlamme
2011-01-13
Lise Beyers
DIE liggaam van ’n driejarige seuntjie is Dinsdag in die puin van ’n verwoestende brand gevind. Die brand het ontstaan in ’n informele nedersetting in Dietmanstraat, Carterville, vermoedelik weens ’n kortsluiting wat veroorsaak is deur onwettige krag-bedrading. Die vlamme het vinnig versprei en huis-eienaars in die omliggende gebied het hul huise se mure met water natgegooi om te keer dat die vlamme hul eiendom ook verwoes. Beide die brandweer en lede van die publiek het gespook om die reuse vlamme onder bedwang te kry. Ten minste twee vrywilligers het ligte brandwonde opgedoen. Tydens die brand is daar voortdurend ’n opname gehou van inwoners van die brandende gebied op vas te stel of iemand vermis word. Maar dit was eers nadat die vuur ten volle geblus is, dat lede van die brandweer afgekom het op die verkoolde liggaam van klein Weslin Thorrens. Weslin se ma was tydens die voorval by die werk en hy is in die sorg van ’n onbekende persoon gelaat. Vyftien wonings is in puin gelê en 64 mense is dakloos gelaat. Die brandweer en Departement van Welsyn het dadelik die inwoners bygestaan en noodkospakkies en komberse is aan die slagoffers uitgedeel. Die Colibri-saal is aan hulle oopgestel, totdat behuisingsreëlings getref kan word. * Sowat 40 mense is verlede Woensdag ook dakloos gelaat tydens ’n brand in die Langrug informele woongebied in Franschhoek. Die brand is vermoedelik veroorsaak deur’n paraffienstofie in een van die huise. Niemand is tydens die brand beseer nie. * A three-year-old boy died in a fire in Carterville, Wellington.
More
News
|