Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vrae ná werker hom dood val

Vrae ná werker hom dood val
 
2011-01-13

Lise Beyers

TALLE vrae word nou gevra oor die beroepsveiligheidsmeganismes van die Drakenstein Munisipaliteit, ná die dood van ’n munisipale werker.

Die werker is dood terwyl hy besig was om ’n dooie eikeboom op Van der Lingenplein, Paarl, af te saag.

Die tragiese voorval het verlede Woensdag plaasgevind, toe ’n span werkers verbonde aan die parke-afdeling van die Munisipaliteit die groot ou eik wat ’n gevaar vir die publiek ingehou het, stelselmatig begin afsaag het.

Eers is die takke verwyder, waarna ’n werker, Owen Abrahams (43), in ’n bak gekoppel aan ’n hyskraan-arm, na die boonste punt van die boomstam gelig is, om dit in stukke af te saag.

Dit is steeds onduidelik presies wat gebeur het, maar volgens ’n ooggetuie, het ’n houtstomp wat Abrahams so pas afgesaag het, die bak waarin hy was, getref, waarna die koppeling van die bak en hyskraan gebreek het.

Die bak, met Abrahams daarin, het na die grond getuimel. Die bak is deurboor deur ’n heiningpaal en Abrahams is uit die bak geslinger tot op die grond.

Omstanders wat die voorval sien gebeur het, het die ernstig beseerde Abrahams te hulp gesnel, waarna hy na Paarl MediClinic vervoer is deur die Metro-dienste. Omdat sy beserings van so ’n ernstige aard was, is hy oorgeplaas na Paarl Hospitaal, maar hy is kort ná sy aankoms daar oorlede.

Abrahams se geskokte broer, Malcolm Abrahams, het vandeesweek gesê dat alhoewel hul bekommernisse oor die oorsaak van Owen se dood nie hom gaan terugbring nie, wil hulle keer dat so iets weer gebeur.

“Owen was baie trots op sy werk en het sy pligte ernstig opgeneem. Ons wil net weet of alle veiligheidsmaatreëls in plek was.

“Is die regte prosedures gevolg? Ons wil net voorkom dat daar ’n herhaling van die voorval is.”

’n Veiligheidsdeskundige wat na foto’s van die hyskraan voor en na die voorval bestudeer het, het kommer oor die voorval uitgespreek.

Volgens hom is die masjien nie ontwerp om mense op te lig nie. Die feit dat die bak losgebreek het, is ook kommerwekkend: “Was die koppeling ’n goedgekeurde ingenieursontwerp?”

Ook het Abrahams geen veiligheidsharnas gedra nie - so ’n harnas behoort aan die hysmasjien se arm gehaak te wees, om ’n val te verhoed.

Themba Gumbela, woordvoerder van die Departement van Arbeid, het gesê dat ’n dringende ondersoek geloods is deur sy departement na Abrahams se dood.

“Tydens ons voorlopige ondersoek het ons ’n bevel aan die Munisipaliteit gelewer om enige verdere afkap van bome te staak. Hulle sal slegs mag voortgaan wanneer hulle a risiko- en veiligheidsverslag aan ons kan lewer.”

Verder sê Gumbela dat die Munisipaliteit die beroepsveiligheidwet oortree het deurdat hulle met die ongelukstoneel getorring het, voordat beamptes van die Departement van Arbeid met hul ondersoek begin het.

Die Drakenstein Munisipaliteit wou geen vrae beantwoord oor die voorval nie. Hulle voer aan dat hulle eers moet wag totdat hul interne ondersoek na die gebeure voltooi is.

Intussen is vier kinders sonder ’n pa gelaat.

Abrahams, ’n geskeide man, se begrafnis vind Saterdag om 11:00 plaas vanaf die huis te Rooi Elsstraat 5, New Orleans, en daarna om 12:00 by die Bethel Congregational Kerk.

* Die Departement van Arbeid se ondersoek na die Paarl Print-brand van 2009, waarin 13 werknemers gesterf het, is byna afgehandel. Volgens die departement sal die verslag en hul aanbevelings hierna aan die Direkteur van Openbare Vervolginge verwys word.

* A municipal worker died last week on duty, when he fell almost 10 metres while cutting down an oak tree in Van der Lingen Square.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za