Skittermatrieks
2011-01-13
Melissa Tighy
DIE Paarl spog vanjaar met twee matriekleerders onder die gesogte top 20 matriekpresteerders in die Wes-Kaap. Tian Roelofse (Boland Landbouskool) en Annemie Jacobs (La Rochelle) vertel hoe geskok hulle was toe hulle vroegoggend Maandag ’n oproep gekry het om hulle in te lig dat hulle gister by Leeuwenhof moes aanmeld om die premier se hand te skud vir hul prestasies. Tian het met 95,5% die tweede plek op die ranglys behaal. Hy spog met onderskeidings in elk van sy agt vakke (100% in Wiskunde). Hy was baie verras was met sy tweede plek en benadruk dat jy elke dag jou huiswerk moet doen en moet bybly in die klas. Annemie, met 93,3%,deel die 12de plek met nog twee leerlinge. Sy spog ook met onderskeidings in elk van haar agt vakke, insluitend 100% in Wiskunde, en beklee die derde plek op die Wiskunde-ranglys. “Jy moet net van dag een af hard werk, en doelwitte stel wat jy wil bereik,” is haar suksesresep. Tian het 98% vir Rekeningkunde en 97% vir Fisiese Wetenskappe. Annemie se beste vakke, benewens Wiskunde, is Fisiese Wetenskap (98%) en Aardrykskunde (94%). Nie net is hierdie twee slimkoppe uitblinkers agter die boeke nie, maar hulle was ook baie bedrywig by hul onderskeie skole. Tian, wat in Durbanville woon, was ’n koshuisprefek, VCSV-leier en het deelgeneem aan die ATKV Redenaarskompetisie. Verder was hy deel van die noodhulpspan en die Junior Landbouvereniging. Hy het ook uitgeblink in drama. Sy ouers, Anton en Annalene, is beide betrokke in besigheid; sy pa is ’n streekshoofbestuurder vir Business Partners en sy ma doseer rekeningkundige vakke by Unisa. Tian gaan siviele ingenieurswese studeer by die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het ’n jonger broer, Calla (15). Annemie, wat in die Strand woon, was onderhoofmeisie van die koshuis, die redakteur van haar skoolkoerant, VCSV-leier, geeskomiteelid en het ook deelgeneem aan die ATKV Redenaarskompetisie. Sy het boonop netbal gespeel en dwarsfluit vir die skoolorkes. Sy gaan medies studeer by die US om in die voetspore te volg van haar ma, Marita. Haar pa, Niel, is ’n veevoerhandelaar in Stellenbosch. Sy het twee broers: Hanno (19), wat BRek by die US studeer, en Dian (9). Albei het met die hulp van goeie beplanning en ou vraestelle hulself goed voorberei vir die eksamens. “Moenie bang wees vir ekstra werk nie, jy gaan nie spyt wees nie,” sê Tian.
More
News
|