Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Norman bewys dokters verkeerd en leef

Norman bewys dokters verkeerd en leef
 
2011-01-13

Liezl Davids

DRIE jaar gelede wou dokters hê hulle moet die masjiene wat vir Norman (Junior) Fredericks aan die lewe hou, afskakel, maar vandag spog Norman met ’n matrieksertifikaat.

Neuroloë het gemeen Norman (19) sal nooit matrikuleer nie, nadat hy byna sy lewe verloor het in ’n motorongeluk.

Norman, wat ’n leerder is van Klein Nederburg Sekondêr, het vir baie gewys dat jou drome met wilskrag waar kan word.

Volgens sy ma, Florida, het dokters ná die ongeluk hoop opgegee, maar het sy en haar man bly glo dat hul kind wel sou lewe.

“’n Dokter het vir my gesê, ‘Nee Mevrou moenie so huil nie, hou jou trane vir die begrafnis,” vertel sy.

Daar was wel een dokter was nie moed opgegee het nie en haar probeer help het. Toe Norman uiteindelik reageer op pyn het Tygerberg Hospitaal ingestem tot ’n operasie om breindrukking te verlig.

Sedertdien is net die linkerkant van sy brein met skedel bedek. As gevolg hiervan mag hy nie aan sport of enige fisiese aktiwiteite deelneem nie, omdat ’n stamp teen sy kop noodlottig kan wees.

Norman wil graag hê dat die regterkant van sy brein ook bedek moet word, maar volgens dokters is hy 200ste op ’n waglys vir dié operasie.

“Ons gee nie moed op nie, ek vertrou dat ons gebede wel sal waar word,” het Fredericks gesê.

Die operasie was suksesvol en Norman het weer begin loop, praat, terug skool toe gegaan en gewys dat hy wel in staat is om sy matriek te voltooi.

In 2009 het hy drie vakke voltooi en verlede jaar sy laaste vier vakke. Hy is gestrem aan die regterkant van sy liggaam, en moes leer om met sy linkerhand te skryf.

Sy ma is baie trots op haar seun en dankbaar vir die ondersteuning van onderwysers, familie en vriende.

“Vriende by die skool het my gehelp, my sak gedra en ’n sirkel om my gevorm dat ek nie kan seerkry deur die gedruk van ander leerders nie,” vertel Norman.

Volgens Norman het sy passie vir skool hom gemotiveer om sy skoolloopbaan te voltooi en was dit ook sy motivering tydens sy herstel.

Hy wil graag ander leerders aanmoedig om hard te werk. “Kinders wat druip, moet weet dit is nie die einde van die wêreld nie, daar is altyd ’n tweede kans.

“Dit het my twee jaar geneem om my matriek te voltooi en ek het die paal gehaal.”

Norman, wat graag ’n apteker wil word, het ook in 2010 sy bestuurslisensie geslaag.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za