Nuwejaars-voornemens 2011: kan dit werk?
2011-01-20
Melissa Tighy
Dit is Oujaarsaand 2010 net voor middernag. Voor jou lê 2011 uitgestrek. Jy dink terug aan verlede jaar dié tyd en die nuwejaarsvoornemens wat jy gemaak het. Party van ons kan nie eers verlede jaar se nuwejaarsvoornemens onthou nie, en is nie seker of ons dit enigsins nagekom het nie! Maar is nuwejaarsvoornemens nie juis daar om verbreek te word nie? Nuwejaarsvoornemens sê party is vir die voëls, maar daar is ander wat vasbyt en hoop dat hulle hierdie jaar wel hul voornemens sal kan nakom. Cynthia Hlutyana (52), ’n verpleegster, wil net meer en harder werk in 2011 sodat sy meer geld kan hê om die goed te doen wat sy nie in 2010 kon doen nie. Theo Davis (23), ’n lid van die misdaadwag in Lady Greystraat, wil weer werk verskaf vir ander wat nie werk het nie. Alesca Bester (22) het onlangs by ’n nuwe werk begin, as bestuursrekeningkundige met ’n spesifieke fokus op kosteberekening, en wil in 2011 net voortbou op haar harde werk en sukses. Gert Tighy (62), ’n dosent in rekenaarwese, maak nie nuwejaarsvoornemens nie: “om aan te hou asemhaal is seker goed genoeg”. “As ek ’n nuwejaarsvoorneme moet maak, is dit om ’n akrobaat te wees,” skerts Anlo Neethling (23) ’n binneversierder van Franschhoek. Nicolene Gordon (21), ’n misdaadwag in die Paarlse middedorp, sê sy is baie trots op haar werk en wil graag net nog beter vaar daarin. Heidi Schreuder (22), ’n web-programmeerder, hoop om hierdie jaar “minder kwaad te raak oor simpel goed” en meer empatie te hê met mense. Stefanie Malan (19) wil suksesvol wees in haar nuwe akademiese jaar. Sy sit hierdie jaar haar studies voort in haarkappery. Nog ’n Paarliet, Maria Arend (32) sê, “Ek wil my lewe verander en my hart aan die Here gee en so ’n nuwe begin maak in 2011.” Jana Thirion (22) se grootste mikpunt is om hierdie jaar haar graad te behaal. Sy swot bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch. Gerda Mulder (45) sê sy maak nie nuwejaarsvoornemens nie, want sy meen jy kom dit nooit na nie. Ronelle Malan (22), ’n grafiese ontwerper, wil net meer gefokus wees hierdie jaar en Lize Pretorius (23), student in perdkunde, wil al die geleenthede en uitdagings aangryp in 2011. “Ek sien mooi dae vorentoe, en spoedige seëninge vir almal,” sê Elizabeth Mackenzie (70), ’n motorwag in Lady Greystraat.
More
News
|