Grafkelders geplunder
2011-01-20
Lise Beyers
VOORVALLE van grafplundery het weer kop uitgesteek in die Paarl. Die nuutste voorvalle is kort ná die Nuwe Jaar ontdek toe families die grafte van geliefdes besoek het in die kerkhof van die Toringkerk langs die Bergrivier in die Paarl. Maar hierdie keer is dit nie net grafte wat geskend is nie. Grafkelders is oopgebreek en die doodskiste daar binne is oopgebreek, vermoedelik in ’n soeke na waardevolle goedere soos juweliersware. Selfs enige stukkies metaal op die deure wat na die grafkelders lei, is ook afgebreek. Volgens kerkopsigter Neels Visser, is hul probleme in die kerkhof ’n voortdurende probleem. “Ons het reeds doringdraad om die mure van die kerkhof gespan, maar keer op keer word dit net afgebreek en die haweloses maak hulself dan tuis in die kerkhof.” Rommel, veral leë plastiek-drankbottels wat oral gestrooi lê, is getuienis hiervan. “Hulle drink en slaap hier en gebruik die area ook as ’n toilet. “In die verlede het ons nog altyd ’n probleem gehad, maar om grafte te plunder soos wat nou onlangs plaasgevind het, is heeltemal onaanvaarbaar. “Van hierdie kelders is al 100 jaar oud en so iets het nog nooit gebeur nie.” Visser het gesê dat die grafkelders nou toegemessel sal moet word, en indien hulle weer gebruik word, sal hulle dit moet oopbreek. * Thieves have plundered the tombs at the historic cemetery of the Toringkerk on the bank of the Berg River in Paarl in search of valuables and metal to sell.
More
News
|