PIEKNIEKLIEFHEBBERS kan hul mandjies gereed kry vir die gewilde somer volmaanpieknieks by die Taalmonument op Paarlberg.
Dié pieknieks bied ’n asemrowende sonsondergang en naguitsig van die vallei.
Die eerste piekniek van die jaar vind plaas op Vrydag 21 Januarie. Die son sak rondom 20:00, wat sowat ’n uur van skemerte tot gevolg het voordat die maan om 21:00 sy verskyning maak.
’n Begeleide monumenttoer sal aangebied word om 18:30 (die Monument sal tot om 22:00 oop wees).
Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjie saam te bring of om een by Volksmond Koffiewinkel te bestel by 021-863-2800 of stuur ’n epos na volksmond@taalmu seum.co.za.
Koffie sal te koop wees by ’n snoepie op die grasperk. Geen honde en vure word toegelaat nie.
Die toegang by die hek beloop R12 (R5 vir studente en R2 vir kinders) en geen bespreking is nodig nie.
Besoekers moet onthou om flitse en warm klere saam te bring.
Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer.
Volmaanpieknieks is ook geskeduleer vir Vrydag 18 Februarie en Saterdag 19 Maart.
Die monument is gedurende die somer daagliks oop tot 20:00. Vir navrae, skakel 021-872-3441 of besoek www.taalmonument.co.za.