NA aanleiding van die Aan jou Kant-rubriek verlede week oor kragspaartoestelle vir warmwatersilinders, het nog lesers gebel wat meen hulle is ingeloop deur bemarkers van Electrosmart en ander soortgelyke toestelle.
Hanno Hendrikse, bestuurder van Electrosmart, het in sy reaksie op verlede week se klagte van mnr Julies Jantjies van die Paarl dat die toestel nie krag spaar nie, gesê dat dit die menslike natuur is om te kla en dat gebruikers van Electrosmart meestal net die toestel verkeerd gebruik en dan aanneem dat dit nie werk nie.
“We have noticed that 90% of clients do not use the unit correctly.”
Volgens Hendrikse word die toestel geprogrammeer sodat gebruikers warm water het wanneer hulle dit benodig.
Hy verduidelik dat die rekenaar ‘n elektriese stroom na die termostaat stuur terwyl die gebruiker warm water benodig en dat dit die stroom aan die vloei hou terwyl die warm water gebruik word.
“Slegs nadat almal klaar warm water gebruik het, laat die toestel die termostaat toe om die geyser weer tot maksimum temperatuur te verwarm voordat dit die elektriese stroom na die termostaat afsny, die geyser afskakel en dus die gebruiker geld spaar,” het hy uiteengesit.
Hendrikse het gesê dat die Electrosmart SABS en NRCS goedgekeur is en dat dit beslis gebruikers tot 25% spaar, as dit reg gebruik word.
Volgens Hendrikse het nie Eskom of enige munisipaliteit ’n beswaar teen die installering van hul produk nie.
Maar Delphine van den Berg van Saldanha is vas oortuig daarvan dat die toestel glad nie werk nie en dat haar bejaarde ma ingedoen is.
Sy en haar man Johnny probeer al langer as ’n jaar om haar ma, mev M Hanekom (82) van Goodwood, se Electrosmart-kontrak te kanselleer. Haar ma is ’n pensioentrekker met swak sig.
Ene Elzette Venter, ’n bemarker, het volgens Van den Berg by haar ma aangeklop en haar “deurmekaar gepraat” sodat die toestel einde 2009 ingesit is.
Volgens Van den Berg het hulle kort daarna, vóór die drie maande geldterug-waarborg verval het, gevra dat dit verwyder word omdat Venter die oorspronklike aansoekvorms met verdigsels namens Hanekom ingevul het. Sy het onder meer die bejaarde egpaar se inkomste aangedik.
Venter het ook ’n deposito van R500 geëis.
Hanekom het hierna alles probeer om die debietorder stop te sit, maar die bank het laat weet dat Electrosmart dit moet stop.
Hanekom, wat net op haar pensioen leef, betaal nou bykans R400 per maand. Die toestel kos haar altesame amper R9 000.
Van den Berg en Hanekom vra dat die kontrak gekanselleer word, maar Hendrikse hou vol dat hulle dit nie kan doen nie.
Omdat niemand Hanekom wou tegemoet kom en die kontrak kanselleer vóór die eerste paaiement afgaan nie, het sy uit radeloosheid vir drie maande gesorg dat daar geen fondse in haar rekening oorbly nie.
En juis hieroor, het Hendrikse gesê, het haar geldterugwaarborg verval, omdat sy van die begin af agter was met haar paaiement.
Hy het ook gesê dat hulle Hanekom probeer help het, al het sy nie meer ’n waarborg gehad nie.
Hendrikse glo dat die Van den Bergs Electrosmart se hulp met die toestel weier en beweer dat dit nie werk nie, om hulle uit die betaling van die produk, waarvoor Hanekom geteken het, te probeer wikkel.
Op ’n direkte vraag waarom Electrosmart nie gereageer het nie op beide Jantjies en Hanekom se aanvanklike pleidooie dat hul kontrakte gekanselleer word en die toestel verwyder word, het Hendrikse nie geantwoord nie.
Hy hou vol dat Electrosmart nie die betrokke gebruikers tegemoet kan kom nie, omdat hulle nie gehelp wíl word nie.
Die feit bly staan: die verbruikers in díé geval sou kon gedoen het met die afkoelperiode soos wat in April van krag kom, luidens die nuwe Wet op Verbruikersbeskerming, waartydens ’n verbruiker ’n kontrak summier kan kanselleer indien hulle hulle bedink of begin twyfel in die werking van byvoorbeeld ’n kragspaartoestel.
Stuur jou verbruikersklagte na abuckle@media24.com of faks dit na 086-509-6034.
* A number of readers have objected to the way in which Electrosmart has sold powersaving geyser applications with a money back guarantee of three months, but refused to give their money back despite their complaints that they were not saving on electricity costs.