Drakenstein verloor sy fut
2011-01-27
DRAKENSTEIN Edu Krieketklub het ’n swak begin tot die tweede helfte van die seisoen gemaak toe sy eerste span die afgelope naweek teen Northdene en Easterns verloor het. Saterdag op CPUT het Northdene eerste gekolf en 169 almal uit aangeteken. Jordan Evans, 4/28 en Wayne Jacobs 3/16 was Drakenstein se beste boulers. Ondanks Chester Kuiler, 25, Juliano Philander, 35 en 20 elk vir Evans en James de Wet kon Drakenstein net 152 lopies aanteken. Sondag op CPUT het die treurmare voortgeduur toe Easterns met goeie boulwerk vir Drakenstein tot net 75 lopies beperk het. Net Nigel Fredericks (31) en Lindsay Davy (17) kon dubbelsyfers behaal. Drakenstein se boulers het hard geveg, en Marshall Lategan, 3/22 en Wayne Jacobs, 2/48 het 5 Easterns paaltjies laat spat voor hulle die teiken bereik het. Die tweede span het Saterdag teen Van der Stel verloor, maar die derde span het die klub se naam hoog gehou deur beide Paarl IV en Exelsior II te klop. Saterdag op die Parys-velde het Cornell Carelse se span korte mette met Paarl IV gemaak en met 6 paaltjies gewen. Paarl het eerste gekolf en kon net 133 lopies bymekaarskraap teen die akkurate boulwerk van Gelaggies Malherbe, 3/10, Dewald Bruintjies, 2/17 en Hirose Steenberg 2/22. Bruintjies het sy boulvertoning opgevolg met ’n puik 44 lopies en saam met Elton Alexander (26), die teiken in net 17 beurte bereik. Sondag op Stellenbosch het Drakenstein vir Excelsior II in ’n riller met 1 lopie geklop. Drakenstein het eerste gekolf en op ’n moeilike baanblad 163/9 in sy 40 beurte aangeteken. Lyle Pienaar, 33, Elton Alexander, 24, Cornell Carelse, 24 en Byron Cook, 22 het met die kolf bygedra. Exelsior is in die 35ste beurt vir 162 uitgeboul deur Pienaar, 4/22, Hirose Steenberg, 3/45 en hul makkers. Saterdag speel die eerste span weg teen Malmesbury, die tweedes tuis teen Klapmuts 1 en die derde span tuis teen Easterns 4.
More
News
|