Blackie loshande die beste
2011-01-27
DIE eerste varswaterhengel-kompetisie van die jaar (Paarl-klub) het plaasgevind op Saterdag, 15 Januarie, by die Brandvleidam naby Worcester. Blackie Swart was loshande die beste hengelaar vir die dag met 19 visse wat ingeweeg is. Gideon Ferreira was in die tweede plek met 9 visse en Blackie se seun, Arno, was in die derde plek met 7 visse. Baie witvisse is gevang, maar die meeste daarvan is dadelik weer teruggeplaas omdat hulle ondermaat was. Onder die dames het Magda Otto die beste gevaar met 5 visse. Magriet van Eck was tweede met 3 visse en Zandrea van Deventer in die derde plek met 2 visse. Eerskomende Saterdag vind die eerste ligakompetisie van die jaar plaas in die Premier- en President-afdelings. Beide kompetisies vind plaas by die Brandvleidam. Die Voorsitterspanne het alreeds die vorige Saterdag ook daar gehengel. Die tweede klubkompetisie van die jaar vind plaas oor die langnaweek van Maart te Verlorenvlei by Elandsbaai. Die jaarlikse uitstappie na die Weskus is altyd ’n groot gunsteling onder die hengelaars. Die karpe van Verlorenvlei is glad nie skaam om aan al die verskillende soorte aas te kom proe nie.
More
News
|