Stadig, maar seker, meer groen
2011-01-27
Melissa Tighy
HERWINNING is ’n ernstige saak vir almal,” sê Hannes du Preez, hoof van die munisipale vullisoorlaaistasie in die Paarl. Hy verduidelik dat die nuwe herwinningsaanleg van die munisipaliteit op dié perseel uiteindelik voltooi en gereed vir aksie is. Nou gaan daar in enkele woonbuurte begin word om plastieksakke uit te deel, sodat mense herwinbare vullis afsonderlik kan uitsit vir verwydering. ’n Spesiale vragmotor sal dié deurskynende sakke oplaai en na die herwinningsaanleg in Distillerystraat bring. So probeer die Drakenstein Munisipaliteit hul deel doen vir die omgewing en verseker dat al hoe minder vullis net bloot gestuur word na die stortingsterrein op Wellington, wat vinnig vol raak. Voorheen het die Drakensteingebied daarin geslaag om sowat 30% van alle vullis te herwin, maar met die nuwe aanleg en met die samewerking van die publiek wat hul eie vullis sal skei, hoop hulle om meer te kan herwin en uiteindelik heelwat kostes te bespaar. Daar kom ongeveer 300 ton vullis per dag by die oorlaaistasie aan, afkomstig van huise, besighede en fabrieke, asook tuinvullis en bourommel. Tuisvullis kan onder meer herwin word tot kompos, en bourommel kan gebruik word vir die bou van paaie. “Dit is ongelooflik hoe baie goed wel herwin kan word en herbenut kan word,” sê Hannes. Hy vertel van ’n verwerkingsplek in Milnerton wat plastiekbottels herwin, wat weer gebruik word om reënjasse te maak. Volgens Hannes sal daar op 1 Februarie in verskillende areas van die Drakenstein Munisipaliteit ’n proeflopie geloods word om die publiek aan te moedig om te herwin. Daar sal deurskynende plastieksakke afgegee word by huise in geslote komplekse soos De Oude Renbaan, Groenleegte en Oude Wingerd, asook dele van Wyk 2 in Wellington. Saam met die sakke wat uitgedeel sal word, sal ’n lys wees van goedere wat daarin geplaas kan word met die oog op herwinning. Hierdie sakke sal op dieselfde dag as wat vullis gewoonlik verwyder word, in ’n aparte vragmotor gehaal word. “Ons wil graag uitbrei met dié aksie en elke maand nog ’n buurt bysit,” vertel Hannes. Dit beteken egter nie die ander inwoners kan net agteroor sit nie. Elkeen in die Drakenstein-area word aangemoedig om plastiek, metaal, glas en papier te herwin, en dit na die oorlaaistasie in Distillerystraat te bring vir verwerking (dit is elke dag behalwe Sondag oop tot 15:30). Daar is ook alreeds verskillende aflaaiplekke (groot groen dromme) waar jy onder meer glas kan afgee, soos by Pick n Pay Paarl en ook by die oorlaaistasie. So ook kan papier afgee by Mr Paper in Alkmaarstraat, batterye en gloeilampe by die Builders Trade Depot in Driebergenstraat, en buisligte by Pick n Pay en Incredible Connection. Ongebruikte elektroniese toerusting soos ou rekenaars kan afgelaai word by eCycle in Rectanglestraat, Triangle Park. En as jy onseker is, bring net alles na die oorlaaistasie. “Die meeste van die goed wat in die vullis beland, hoef nie net weggegooi te word nie - jy kan werklik byna alles herwin,” sê Hannes. So, daar is werklik geen verskoning meer nie: herwinning is hier. ) The age or recycling is dawning in Drakenstein. An improved recycling station has been completed in Paarl and Drakenstein Municipality is due to launch its first recycling refuse removal system in certain local neighbourhoods next week.
More
News
|