Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Fratsongeluk eis kind

Fratsongeluk eis kind
 
2011-01-27

Lise Beyers

’n SEWEJARIGE dogtertjie het Sondagmiddag eers haarself mooi gemaak, voordat sy onwetend na haar dood gestap het.

Zhan Jonkers (7) het hierdie middag rustig in en om die huis in ’n stegie by Janfiskaalstraat in Amstelhof, Paarl, gespeel, wat sy met haar pa en suster gedeel het.

Nog ’n inwoner van die huis, Lanei Williams, het vertel dat Zhan skielik binnegekom het en haar mooi gemaak het.

“Sy het selfs oorbelle aangesit en het na buite gegaan. Maar haar driejarige nefie, Le-Zanne Farmer, wat ook hier gespeel het, het aan haar vasgeklou en wou saam gaan.

“Sy het eers nee gesê, maar het weer ingegee en hom aan die hand saamgeneem.

“Sy wou na haar pa toe gaan wat by vriende in Jan Fiskaalstraat gekuier het.”

Maar Zhan en Le-Zanne was skaars weg toe die noodlot tref.

Nog ’n inwoner van die huis, Delton Sanders, het vertel dat hy ’n geweldige slag gehoor het.

“Dit was nes ’n geweerskoot. Ek het na Janfiskaalstraat gehardloop en op die verskriklike toneel afgekom.

“Beide Zhan en Le-Zanne het onder ’n motor gelê.”

Volgens ooggetuies het ’n man sowat 20 meter vanaf die ongelukstoneel in die straat aan sy motor gewerk. Die motor het skielik vorentoe gerol en spoed opgetel terwyl dit by die pad af- gerol het, direk in die rigting waar die twee jong kinders op die sypaadjie gespeel het.

Volgens ’n ooggetuie het iemand gegil en toe Zhan die motor sien aankom, het sy haar rug daarop gedraai en haar nefie in haar arms probeer beskerm.

Die motor het haar teen die rug getref en het hierna teen ’n staalmotorhek gebots.

Albei kinders is ernstig beseer.

Hulle is na Paarl Hospitaal oorgeplaas, maar Zhan is kort hierna oorlede. Le-Zanne is met kop- en borsbeserings na die Rooi Kruis Hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.

Hy verkeer tans in ’n ernstige, maar bevredigende toestand.

Zhan se familie soek nou antwoorde, want hulle beweer dat ten spyte van spoedhobbels wat in Jan Fiskaalstraat aangebring is om jaende motors te stuit, is dit steeds ’n baie gevaarlike pad.

Maar die eienaar van die woning waarteen die voertuig tot stilstand gekom het, Isak Joostenburg, het gesê dat dit suiwer ’n fratsongeluk was.

“Die motor se handrem het vermoedelik gefaal en die kar het sonder enigiemand daarin by die pad af begin loop.”

Paarl-Oos polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag na die voorval.

Zhan was in graad 2 by Amstelhof Laerskool. Sy word oorleef deur haar pa, Josef de Beer, ma Jeanette Jonkers van Rawsonville en haar suster Modeley-Anne Jonkers (15).

Haar begrafnis vind Saterdagoggend vanaf die huis in Janfiskaalstraat 381 plaas. Daarna sal die diens by die Amstelhof Laerskool plaasvind om 09:00. Gisteraand het daar ook ’n gedenkdiens vir Zhan naby die ongelukstoneel plaasgevind, wat bygewoon is deur senior munisipale amptenare.

* A young girl (7) has died after she was struck by a driverless runaway car in Paarl East. The little boy she tried to protect from the car, is in hospital.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za