Vroue vat selfoondief vinnig vas
2011-01-27
Lise Beyers
’n GEWESE polisievrou het vandeesweek weer bewys dat sy die bul by die horings pak as dit by misdaad kom. Heidi Kroutz, wat nou ’n wegneemete-restaurant bedryf in Voigtstraat in die Paarl, se selfoon het verlede week verdwyn op dieselfde dag wat sy ’n skoonmaker aangestel het. “Die man het altyd by my kom aanklop op soek na werk. Al het ek nie werk vir hom gehad nie, het ek hom jammer gekry en gesê hy kan maar een keer ’n week hier kom help skoonmaak. “So kom hy toe verlede Woensdag vir die eerste keer hier werk, maar toe ek my oë weer uitvee, is my duursame selfoon skoonveld.” En so ook het die ‘skoonmaker’ hom uit die voete gemaak. Kroutz het die regte ding gedoen en ’n saak van diefstal teen die verdagte by die Paarl polisie gemaak. En Dinsdag het ’n vrou wat vir haar werk, Philida Fortuin, by die winkel ingehardloop met die nuus dat sy die vermeende dief in Lady Greystraat gesien het. Kroutz en Fortuin het die man agternagesit en toe hulle by hom stilhou, het Kroutz hom beveel om saam met haar terug te gaan winkel toe. Maar die man het hom dadelik uit die voete gemaak. Fortuin, kort van gestalte, het hom te voet agternagesit en nog ’n omstander het aangesluit by die jaagtog. Die verdagte is vasgetrek, waarna hy aan Kroutz en die polisie erken het dat hy die selfoon gesteel en verkoop het aan ’n tweedehandse handelaar in Lady Greystraat Die selfoon is intussen verkoop aan ’n vrou wat by ’n Lady Greystraat slaghuis werk, Dawood Jacobs van Chicago is in hegtenis geneem. Kroutz was ’n paar jaar gelede ook in die nuus toe sy ’n winkeldief in Lady Greystraat platgehardloop het. * A former policewoman has caught the man who stole her cellphone, with the help of her fleet-footed colleague who chased him down the street.
More
News
|