EK verwys na die brief van ene Wynand Viljoen in die Paarl Post van 27 Januarie.
Ek verskil van die skrywer in dié opsig dat ek meen Diana Liebenberg van Skinkikofi-gastehuis het niks om haar oor te skaam nie en in dié geval die Drakenstein Munisipaliteit ook nie, behalwe dat sommige amptenare dalk ’n trae pas gehandhaaf het.
Niemand is verhewe bo die reg nie en geen mens mag die reg in eie hande neem en besluit om aan te gaan met ontwikkeling sonder die goedkeuring van die munisipaliteit nie.
Ongelukkig is daar wette en regulasies en dit moet nagekom word.
Mnr Frater het reg in eie hande geneem en voortgegaan met sy ontwikkeling sonder munisipale toestemming.
Die artikel beweer dat mnr Frater met al die bure gesels het en dat slegs die Liebenbergs ongelukkig was. Dis snert, want niemand het met ons gesels nie (ek woon in dieselfde omgewing).
Dis verder vir my duidelik dat die skrywer geen ondervinding het van die rumoer wat Primi Piatti se gaste veroorsaak in die mees onmenslike ure van die nag nie en dat hy ’n absolute wanindruk het van gaste wat “oor die algemeen uiters beskaafd en gematig” is.
Ek het self al by meer as een geleentheid die polisie gebel om die rumoer te kom stilmaak.
Van die gaste skreeu en lag so hard dat dit ons wakker raas drie huise verder straat af en dan is dit gewoonlik 02:00 in die nag.
Glo my vry, ek het nie ’n probleem met mense wat hulself geniet nie, maar ná 24:00 in die nag wil ’n mens darem seker vrede hê.
Ons bly ongeveer dieselfde afstand vanaf De Kelders restaurant en het nog nie een keer dié soort probleem van daar af ondervind nie.
Nou is die vraag of dit meer “beskaafde en gematigde” kliënte is, of is daar net beter beheer en bestuur oor die algemeen.
Ek hoop die paar voorbeelde plaas ’n ander perspektief op die aangeleentheid wat tans in die nuus is.
Gert Combrink