WAAROOR gaan die veelbesproke Wet op Verbruikersbeskerming wat einde Maart in werking tree?
Kortliks: die wet beskerm die verbruiker teen skelm, onetiese, immorele, onregverdige of onwettige sakepraktyke en produkte van lae gehalte of toestelle wat nie werk nie.
Dit gee die verbruiker ’n stem in ’n land waar sake-organisasies sterk staan.
Verbruikers kan vir die eerste keer optree teen ondernemings wat aan hulle swak produkte of diens verskaf.
Die verbruiker moes altyd bewys dat ’n produk nie werk nie, soos in die onlangse Electrosmart-gevalle waaroor Aan jou Kant berig het, alvorens ’n kontrak gekanselleer kon word.
Die nuwe wet skuif die bewyslas na die verskaffer omdat verbruikers voortaan sal kan aanneem dat produkte gepas sal wees vir die doel waarvoor dit gekoop is soos aangedui deur die verskaffer tydens die kooptransaksie. Ook dat dit van ’n goeie gehalte, in ’n werkende toestand en vry van defekte is.
Verder kan die verbruiker aanneem dat die produk vir ’n redelike tydperk sal hou, mits dit gebruik word soos aanbeveel. Dáárvoor moet die verbruiker voorsien word van duidelike instruksies op of in die verpakking. Electrosmart sal dus na hul instruksies aan verbruikers moet gaan kyk, indien 90% van die gebruikers van hul toestel dit dan nie “reg gebruik nie”, soos wat Electrosmart beweer.
Die verskaffer dra dus die risiko en sal moet opdok vir goedere of dienste wat nie op ’n aanvaarbare standaard is nie.
Een van die grootste pluspunte in die wet is dat alle kommunikasie en inligting oor die produk of diens in verstaanbare taal aan die verbruiker oorgedra moet word. Belangrike inligting soos byvoorbeeld om watter redes versekeringseise nie uitbetaal nie, kan nie meer in ’n kontrak se fynskrif weggesteek word nie. Die inligting moet breedvoerig aan die verbruiker verduidelik en enige risiko uiteengesit word.
Deur-tot-deur bemarkers sal ook nie meer goedgelowige of bejaarde verbruikers in ’n ooreenkoms kan dwing wat later nie gekanselleer kan word nie, want die wet vestig ’n afkoelperiode van vyf dae waarin enige ooreenkoms gekan- selleer kan word.
Nog ’n goeie ding is dat álle sakename geregistreer moet word. Geen meer “trading as” en dies meer nie.
Elke naam sal nou afsonderlik geregistreer moet wees, sodat verbruikers presies weet met wie hulle te doen het. Stuur jou verbruikersnavraag na aanjoukant@media24.com of edit@paarlpost.co.za. (Bronne: www.werksmans.com, www.legalbrief.co.za)