Drakenstein Edu se krieket ry weer wipplank
2011-02-03
DIE eerste krieketspan van Drakenstein Edu het weer teleur gestel toe hy teen Malmesbury verloor het met 68 lopies. Malmesbury het eerste gekolf en ’n skaflike 191 lopies aangeteken. Cameron Cupido het sy terugkeer na die span gevier deur 4/31 plat te trek. Hy is goed bygestaan deur Chester Kuiler, 2/15, en Hanno Filander, 2/48. Drakenstein het gesukkel op ’n kolfblad wat al hoe moeiliker gespeel het, en is vir 123 lopies uitgehaal. Net Kuiler (23) kon enige noemenswaardige telling aanteken. Die tweedes pan het op Labori sy wendroogte gebreek deur Klapmuts 1 oortuigend met 50 lopies die loef af te steek. Drakenstein het eerste gekolf en is vir 167 lopies uitgeboul. Cheslin de Villiers het met 44 lopies uitgeblink en is goed bygestaan deur Ashley Sampson wat 33 lopies aangeteken het. Drakenstein het die telling verwoed verdedig, en met Franco Davids, 4/18 aan die spits, is Klapmuts vir 108 lopies uitgeboender. Butch Green, 2/5 het die afrondingswerk gedoen. Die span se grondveldwerk was ook puik. Die klub se derdes het gewys dat hulle vegters is wat vir niemand skrik nie, deur die huidige voorlopers, Easterns op CPUT, met 10 lopies te klop. Drakenstein het 153 in sy 40 beurte aangeteken, met Dewald Bruintjies, 36, weer eens die uitblinker. Kaptein Faiz Bailey (23) en Lyall Pienaar (22) het ook stewig gekolf. Easterns het goed begin, en op 130/5 gelyk of hulle maklik gaan wen. Nathan Hendricks, 3/23, Gelaggies Malherbe, 3/32 Bruintjies, 2/13, en Dean Jacobs, 2/13 het egter ander planne gehad en die laaste 5 Easterns paaltjies vir net 11 lopies laat spat. Saterdag speel die eerste span op Labori teen Worcester-United, die tweedes speel weg teen Easterns II en die derde span reis na Pniel vir hul wedstryd teen Coronations III.
More
News
|