Ses-aan-’n-kant-krieketdag in Groot Drakenstein
2011-02-03
SONDAG 6 Februarie bied Groot Drakenstein Games Club hul 51ste geborgde “Boschendal” ses-aan-’n-kant-krieketdag aan op die historiese Pickstone Oval, wat sekerlik een van die mooiste velde in die Boland is. Die veld is geleë in Groot Drakenstein op die R45 tussen Simondium en Franschhoek. Hierdie kriekettoernooi is die oudste van sy soort in die land en agt klubs (Coronations, Brackenfell, Paarl-Oos, Groot Drakenstein Uitnodigingspan, Westelike Provinsie, Claremont, Vishoek en Kaapstad (huidige bekerhouer) ding vanjaar mee om die gesogte trofee. Die wedstryde begin om 10:00 en die plaat en finaal sal teen 16:00 gespeel word. Vir die spanne sowel as individue (beste veelsydige speler, veldwerker, kolwer en die grootste ses) wat presteer is daar groot pryse te wen. Verversings soos worsrolletjies, hoenderbraai, pasteie, koeldranke en vele meer sal deur die dag beskikbaar wees. Toeskouers mag geen alkohol-drankies na die veld bring nie, aangesien daar ’n gelisensieerde klubhuis is. Vir die kinders is die swembad, springkasteel en tennisbaan beskikbaar. Vanjaar se tema is “Familiedag” en almal word hartlik uitgenooi om die dag saam met Groot Drakenstein Games Club te geniet. Toegang is gratis, maar toeskouers kan ’n vrywillige donasie doen vir die ontwikkeling van krieket in die Groot Drakenstein-omgewing.
More
News
|