Besoekers wen op Wellington
2011-02-03
BESOEKENDE spanne het die toon aangegee by die jaarlikse ses-aan-’n-kant-kriekettoernooi van die McCarthy Toyota Wellington-CPUT Krieketklub, wat Saterdag vir die 23ste keer op die plaaslike Pen Basson-velde gehou is. Die West Coast Rollers van Melkbosstrand onder leiding van Nico Rheeder het heel gemaklik koning gekraai in die finaal oor die kaptein Theuns Stofberg se Wellingtonse Mix-and-Match-span. Nie eens ’n reuse ses van die voorlaaste bal wat op die ruit van ’n geparkeerde voertuig te lande gekom het, kon die Wellingtonse span help om die wentotaal van 56 aan te teken nie. In die plaatfinaal het Edgemead in ’n soms hittige wedstryd die plaaslike Bon Vino-span geklop. Volgens Rheeder neem die West Coast Rollers reeds bykans vyftien jaar lank deel aan soortgelyke sosiale byeenkomste, maar dat dit die eerste keer is wat hulle ’n ses-aan-’n-kant-toernooi wen. Sy span het vanjaar een pa-en-seun-kombinasie ingesluit, asook twee broers. Sestien spanne het aan die toernooi deelgeneem, en is deur die loop van die dag aangevuur deur die klopseklanke vanuit die nabygeleë Boland-stadion.
More
News
|