Ingrid reik uit
2005-10-13
'n PLAASLIKE welwillendheidswerker is verlede week tydens ‘n spoggeleentheid by die Mount Nelson-hotel vereer vir haar jarelange bydrae tot die versorging van borskanker-pasiënte.
Ingrid Rossouw was 14 jaar lank voorsitter van die Paarl-tak van Reik na Herstel, ‘n vrywillige diens tot die beskikking van enige vrou wat borskanker het of gehad het.
Die organisasie verleen emosionele steun aan borskankerpasiënte en gee vir hulle gemoedsrus om so gou as moontlik na borschirurgie na hul vorige leefwyse terug te keer.
Die ‘Pink Party’ by die Mount Nelson-hotel was ‘n eksklusiewe geleentheid wat aangebied is deur die bekende mode-ontwerper Gavin Rajah en Reik na Herstel, om verskeie individue te huldig vir hul onbaatsugtige bydrae tot die versorging en ondersteuning van borskankerpasiënte.
‘n Hoogtepunt van die geleentheid was ‘n modeparade waartydens verskeie modelle, wat self deur borskanker geraak is, in pragtige uitrustings wat spesiaal vir die geleentheid deur Gavin Rajah ontwerp is, gepronk het.
Ingrid het betrokke geraak by Reik na Herstel nadat sy self met borskanker gediagnoseer is.
Sy het besef dat tydens haar behandeling was daar min ondersteuning vir pasiënte, en vir ‘n vrou is dit seker die ergste siekte wat sy ooit in die gesig sal moet staar.
Hierna het sy vir etlike jare aan talle pasiënte regoor die Wes-Kaap ondersteuning en berading gegee. Soms het dit beteken dat sy selfs in die middernagtelike ure na pasiënte moes gaan, wat gevoel het dat hulle nie meer die stres van dié prosedure kon verduur nie.
Nou, veertien jaar later, het sy besluit om af te tree en die teuels aan ‘n jonger geslag oor te dra.
Sy sê hoewel dit soms ‘n erg emosionele ervaring is om dié werk te doen, is dit ook geweldig bevredigend wanneer jy sien dat jy wel iemand help.
Diegene wat belang stel in Reik vir Herstel kan die nuwe voorsitter, Hannelie Vergottini, by 864-3725 skakel.
More
News
|