Skool sukkel om kop bo water te hou
2011-02-03
Lise Beyers
DIE Newton Primêre Skool is byna R54 000 in die rooi, omdat hierdie skool as ’n “gegoede” skool beskou word. En dit is twak, meen skoolhoof Lindsay Truter, want veel minder as die helfte van hul leerders kom uit gesinne wat kan bekostig om skoolgeld te betaal. Hierdie aardige bedrag word verskuldig aan die Drakenstein Munisipaliteit vir ’n uitstaande water- en elektrisiteitsrekening. “Ons kan net nie voorbly nie,” sê Truter. “In 2001 is Newton Primêr tydens ’n landwye opname bepaal as ’n gegoede skool, saam met skole soos byvoorbeeld Hugenote en Gimnasium. Hierdie klassifikasie bepaal hoeveel bystand ’n skool vanaf die Departement van Onderwys kry. “Die skaal werk van een tot vyf, met 1 as die armste van die armes. Skoliere by hierdie skole betaal geen skoolgeld nie en kry baie bystand. “Op dié skaal val ons verkeerdelik op nommer 5 en dit beteken dat ons baie minder bystand kry. Ons kry ’n geringe bedrag per leerder vanaf die regering en hulle betaal ons salarisse (nie-beheerraadsaanstellings). Verder dra ons al die ander onkostes self. “Maar hierdie moet herevalueer word, want die meerderheid van ons leerders kom uit baie minder gegoede huise. Dus het ons ’n werklike probleem om skoolgeld van R.430 per kind in te samel en ons sukkel om kop bo water te bly. Vier jaar gelede reeds sou die Wes-Kaapse onderwysdepartement ondersoek instel na ons probleme, maar niks het nog gebeur nie.” Newton se reddingsboei is die feit dat die munisipaliteit nie só ’n inrigting se krag mag afsny nie. Die water kan hulle wel op ’n drupstelsel sit. “Maar die rekening verhoog net elke dag en iemand moet dit betaal.” En omdat hierdie skool se pleidooie al ’n geruime tyd op dooie ore val, het ’n afvaardiging bestaande uit die beheerraad, asook bekommerde ouers, verlede week toegesak op die kantore van die WKOD in Kaapstad om hul stem dik te maak. En alhoewel hul steeds geen bystand ontvang het nie, hoop hulle dat daar nou vinnig aandag gegee sal word aan hul probleme. ’n Woordvoerder van die WKOD het gesê dat die departement die skool ’n voorskot sal gee om hul uitstaande skuld te betaal. Die departement sal die skool ook bystaan om hulle oor besparings maatreëls te adviseur. Verder is daar gesê dat die Departement van Onderwys die skool se stand sal hersien. * A local primary school cannot pay its bills, because red tape has decreased its government subsidy.
More
News
|