Skool oorweldig deur diewe
2011-02-03
Lise Beyers
Dwelmverslaafdes is stelselmatig besig om Weltevrede Sekondêre Skool weg te dra. So sê skoolhoof, Nealle Albertus, nadat diewe weer eens die skool geplunder het. Vir die tweede keer in twee weke het diewe ingang tot ’n kleedkamer gedwing en derduisende rande se skade aangerig. Daar word vermoed dat die skuldiges jeugdiges mag wees, aangesien die diefwering aan ’n venster net effens oopgedwing is, sodat ’n klein persoon daardeur kan klim. Staal-wasbakke is gesteel, asook metaalpype en kraankoppe. “Hierdie is ’n voortgaande probleem. Onlangs is die seunskleedkamer ook só geplunder nadat ’n hele vensterraam in geheel uit die muur gepluk is. “Met die nuutste inbraak is daar nou net drie toilette wat gebruik kan word tussen meer as 500 dogters. Dit neem baie lank vir die onderwysdepartement om sulke skade te herstel, en die seunstoilette is nog nie eens reg nie.” Albertus sê dat hy nie meer weet in watter rigting om te draai nie. Sodra ’n nuwe heining om die skool gesit word, word die draad stuk vir stuk gesteel. Vensters aan die buitekant moet nou toegemessel word, want geen diefwering weerstaan die booswigte nie. Diewe het reeds omtrent al die metaalknippies van die vensters afgebreek, en nou kan hulle nie toe nie. Lugreëlaars moet in staalhokke vasgebout word hoog teen mure, asook enige elektriese apparaat wat bedrading bevat. “Verlede jaar het diewe so ver gegaan om die deur van ’n stoorkamer van ons af te brand om toegang te verkry daartoe. Ek kan ook nie ons diefalarm regmaak nie, want die bedrading hiervan is reeds gesteel. “Dit maak die personeel en leerders mismoedig om byna daagliks skool toe te kom om hieraan blootgestel te word. “Die klein bietjie spaarfondse wat ons soms tot ons beskikking het, word aan herstelwerk gespandeer, in plaas van opvoeding. “Ek is oortuig daarvan dat ons besteel word deur jong diewe wat die metaal as skroot verkoop, en met die bietjie wat hulle daarvoor kry, koop hulle dan dwelms. “Ons vra mooi vir die gemeenskap om ons oë en ore te wees om te help om stop te sit aan hierdie plaag.” Volgens Albertus is daar wel ’n effense lig aan die einde van die tonnel, met ’n belofte van die Departement van Onderwys dat Weltevrede Sekondêr gebrandmerk is om in die 2012/2013 boekjaar opgegradeer te word. “Ons hoop maar dat daar iets van die skool oor is as daardie tyd kom.” * Theft of metal by drug addicts has left a local high school reeling.
More
News
|