Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sonde met die bure se baie diere

Sonde met die bure se baie diere
 
2011-02-03

Lise Beyers

’n PLOFBARE situasie heers tans in Noorder-Paarl weens ontsteltenis oor wat bure noem ’n ‘onwettige diere-teler’ in hul geledere.

Hierdie brandpunt het reeds vier jaar terug begin vlamvat, maar duur voort ten spyte van waarskuwings vanaf die Drakenstein Munisipaliteit, sê die bure.

Bure van Jackie Jakobs, wat op die hoek van Skool- en Jan Steynstraat woon, het reeds ’n geruime tyd gelede beswaar aangeteken oor Jacobs se beweerde ‘diere-stoetery’ in sy agterplaas.

Hulle meen dat ’n astronomiese hoeveelheid vlieë, rotte en muise daar uitbroei weens die aanhou van diere. En boonop, meen hulle, word die omgewing permanent ontsier deur ’n geweldige stank.

Jacobs het al jare lank Corner Pets vanaf sy woning bedryf. Sy hele agterplaas is bebou met hokke waarin apies en voëls geteel is.

Reeds toe het bure snuf in die neus gekry dat hierdie bedrywighede nie wettig is nie.

Toe die winkel nog oop was in Skoolstraat, het hulle gekla dat die area ses dae per week vol motors gestaan het van mense wat besoek afgelê het by Corner Pets en dat Jacobs onooglike advertensieborde voor sy eiendom aangebring het.

Klagtes oor Corner Pets is onder die aandag van die Drakenstein Munisipaliteit gebring, wat by nadere ondersoek die besigheid beveel het om na ’n kommersiële perseel te skuif.

So is Corner Pets na die Hoofstraat verskuif, maar steeds word daar met diere geteel by die huis in Skoolstraat.

Een van die gegriefde bure, wat anoniem wil bly, juis oor die onsmaaklike buurmanskap wat nou in dié gebied heers, het gesê dat die situasie nou onuithoudbaar geword het.

“Ons kan nie eens mense buite onthaal nie, so stink dit. Ons het ook al ondergrondse muis-neste op ons erf gekry reg langs die muur wat die erwe skei. En rotte hardloop ook dikwels rond.

“So ’n besigheid behoort vanaf ’n kleinhoewe bedryf te word en beslis nie in ’n residensiële gebied nie.”

En dié keer het klagtes oor die telery op dowe ore geval by die Drakenstein Munisipaliteit.

Uit noodweer het die gegriefde bure van Jacobs hul gewend na die gesondheidsafdeling van Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit. Tydens ’n inspeksie in September 2010 is bevind dat reuke en vlieë pla en dat die diere se hokke nie op ’n gereelde basis skoongemaak is nie.

Hierna het hulle aanbeveel dat die permit wat aan Jacobs uitgereik is om diere aan te hou, herroep word, en dat hy weer hiervoor aansoek moet doen.

Ook dat hy sonder toestemming ’n honde-telery bedryf, wat in die eerste plek glad nie toegelaat mag word nie. Hy is aangesê om te verseker dat alle hokke op sy perseel deeglik skoon gehou moet word.

Die Distriksraad het bevind dat die opset van Jacobs se Skoolstraat-telery in geheel nie van pas is nie, veral nie in ’n residensiële gebied nie.

En toe Drakenstein Munisipaliteit ná hierdie bevindinge van die Distriksraad steeds nie opgetree aksie geneem het nie, het die beswaarde bure ’n vergadering geroep met munisipale bestuurder, dr Sidima Khabanyane. Hy het tydens die vergadering instruksies gegee aan senior amptenare om Jacobs se diere te verwyder en dat die hokke afgebreek moet word.

Met Paarl Post se besoek aan die Jacobs-woning was daar Dinsdag geen teken van uitermatige reuke nie, of vlieë of rot-infestasies nie. Daar is wel talle hokke met eksotiese voëls daarin, ’n hok met twee apies daarin en ’n opslaanswembad waarin visse geteel word. Twee bulhonde was te sien, wat die Jacobse se troeteldiere is.

Talle hokke staan leeg, want Jacobs het gesê dat hy nie weet wat sy toekoms hiér is nie, en of hy kan voortgaan met sy diere nie.

“Ek woon al 30 jaar lank hier en die diere was nog altyd ’n stokperdjie vir my. As ek nie mooi na hulle kyk nie, dan sal hulle mos nie in so ’n goeie toestand gewees het nie.

“Ek weet nie waarom daar nou skielik soveel klagtes is nie.”

* Residents of Northern Paarl up in arms over the stench from the backyard of an animal breeder.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za