Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Broerder-twis by kerk

Broerder-twis by kerk
 
2011-02-03

Lise Beyers

VIER-EN-SESTIG lidmate van die VGK Bergrivier in Wellington is verlede week met interdikte gedien wat hulle weerhou daarvan om kerkdienste en ander aktiwiteite van die gemeente te ontwrig.

Hierdie aksie is die nadraai van ’n maandelange twis by hierdie gemeente, met ds James Mackay in die spervuur.

Verlede jaar het ’n groep lidmate die Besorgde Lidmate van Bergrivier (BLB) gestig, om hul misnoeë uit te spreek teen ds Mackay, wat bykans 13 jaar lank hiér dien.

Allerlei beskuldigings word na sy kant toe geslinger, van ongerymdhede in die kerk se finansies, tot egbreuk en losbandigheid.

BLB lede het sedertdien verskeie kere dienste by die VGK Bergrivier onderbreek, en volgens lidmate selfs vuvuzelas binne die kerkgebou geblaas.

Die interdik verbied hierdie lidmate om enige kerkdienste of ander aktiwiteite van die gemeente te ontwrig.

Ds Mackay sê dat hy niks het om weg te steek nie.

“Al het ek geen verhouding met iemand nie, mag ek doen wat ek wil, want ek is wettiglik geskei van my vrou. Hierop is ek nie trots nie, en dit maak nog baie seer. Wat wel seerder maak, is die aantygings teen my vanuit ’n klein groepering in my gemeente.

“Die Ring van die VGK het my egskeiding ondersoek en ’n forensiese ondersoek na die kerk se finansies is uitgevoer. Die boeke is oop vir enigiemand en daar is niks om weg te steek nie.

“Hulle is in elk geval net ’n baie klein persentasie van ons gemeente. Kom kyk maar self, Sondae is die kerkbanke volgepak.

“Die BLB sleep die kerk se naam deur die modder. Ek was en is nog altyd hier om die gemeente te dien tot my volle vermoë.”

Maar Donderdagaand, nadat die interdikte op die groep gemeentelede gedien is, het dinge handuit geruk by ’n biduur op die kerkterrein.

Vuiste het byna geklap en beledigings het deur Weltevrede heen en weer opgeklink tussen BLB-lede en pro-Mackay gemeentelede.

Die situasie is uiteindelik sonder enige ernstig voorval ontlont, maar steeds is daar geen oplossing vir die ‘broeder-twis’ wat tans hier bestaan nie.

Die BLB is nou ook tans in die proses om regsadvies in te win om die interdikte ongeldig te laat verklaar. Hulle wou vandeesweek egter nie verder kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie.

* A Wellington church council has obtained a court interdict to prevent disruption of services by discontented members..




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za