DIE Bergrivier-Tafeldruifprodusentevereniging se wenblok is onlangs aangewys. Abri Nortjé se pragtige wenblok Red Globe op Panorama-plaas was die wenner onder die veertien blokke wat ingeskryf het. Nortjé, wat meer as een blok ingeskryf het, slaan ’n prys van R20 000 los.
Sameroeper Pieter Raath is van mening dat die inskrywings byna almal van ’n hoë gehalte was en dat dit moeilik was om ’n wenner te kies.
Die blokbesigtiging, waartydens die drie wenblokke besoek en bespreek is, was deur verskeie produsente bygewoon.
Die tweede plek is ingeneem deur Innis Brynard, wat hom onlangs by Kosie van Niekerk se span op Halfmanshof aangesluit het. Hy was in die tweede plek met ’n blok Dan Ben Hanna en wen R13 500.
Rudolf Grobler, verlede jaar se wenner, van Broodkraal Landgoed (JF le Roux Groep) was in die derde plek met ’n blok Thompson en slaan R7 500 los.
’n Addisionele kwaliteitsprys van R5 000, geborg deur Cold Harvest, sal later oorhandig word. Tien boksies druiwe vanaf elk van die drie wenblokke word deur Experico opgeberg en getoets om te bepaal wie hierdie prys wen.
Die borge sluit in NexusAG, Bayer CropScience, PPECB, Kaap Agri Pakmateriaal Paarl, Exsa, The Grape Company en HopkinsCalvert.