DIE bekende vrugte-uitvoermaatskappy in die Paarl, Colors, het onlangs ’n skadevergoedingseis van R15 miljoen by die Hooggeregshof ingedien teen sy mededinger, Core Fruit, asook ’n aantal voormalige werknemers van Colors wat in Augustus verlede jaar skielik na Core “oorgeloop” het.
Sowat 12 Colors-werknemers het hulle aangesluit by Core, wat op 1 September ’n tak-kantoor in die Paarl geopen het.
Core, ’n gevestigde vrugte-uitvoermaatskappy, behoort aan André Lombard, ’n eiendomsontwikkelaar en vrugteboer van Polokwane.
Colors beweer nou dié voormalige werknemers het inligting wat geprivilegieerd is, onregmatig gebruik om teen hom mee te ding. Core staan die saak teen en ontken die klag.
Colors het ook ’n tussentydse bevel in camera verkry waarvolgens sekere rekenaardata by Core se Paarl-kantoor by voormalige Colors-werknemers verwyder is. Dié data word deur die balju bewaar, en kan dien as getuienis in die hofgeding.
Core staan ook dié tussentydse bevel teen en die partye wag op ’n uitspraak in dié verband.