VANDAG het ek deel van die statistiek geword, die suksesstatistiek van dankbaarheid oor eerlike mense. In ons soektog na vrugte vir ’n funksie, het ons by verskeie winkels in die Paarl aangedoen.
By Paarl Mall het ek tot my skok ontdek dat my duur polshorlosie, ’n Kersgeskenk van manlief, nie aan my arm was nie.
Die soektog en navrae het begin. Ek het my besonderhede orals gelaat om net met ’n negatiewe kopskud my na die volgende winkel te haas.
Uiteindelik, by die laaste een, die vrugte- en groentehandelaar oorkant die Paarl stadsaal, het my moed al laag gelê.
En dit was net hier waar die vriendelike bestuurder soos ’n wafferse Martino my verlore skat uit sy kantoor gaan haal. Ja, die horlosie het van my pols afgegly met die uitklimslag uit my motor en in die parkeerterrein op die teer beland.
Die eerlike motorwag, Eric, het dit opgetel en aan die bestuurder oorhandig. Baie, baie dankie aan Eric en die bestuurder dat my skeptisisme weer ’n positiewe hupstoot gekry het. Suid-Afrika het nog baie juwele!
Susna du Toit