EK het my dogter, Samantha Williams (2), op Dinsdagaand 18 Januarie na die Paarl Hospitaal se ongevalle-afdeling geneem nadat sy haar vinger erg beseer het. Dit was tot op die been oopgesny.
Ons het by die hospitaal gesit van 7 nm tot 2 vm sonder dat iemand daarna gekyk het.
Toe die personeel uiteindelik by haar uitkom, sê hulle dit is ’n “koue” geval, dis te laat om dit toe te werk. Hulle het haar huis toe gestuur met ’n pleister om haar vinger.
Daar is gesê sy moet die volgende dag kliniek toe gaan, waar sy panado-stroop gekry het.
Ons was baie ontsteld en het haar na ’n private dokter geneem, wat bevestig het dat die wond toegewerk moes gewees het. Later blyk dit haar vinger was gebreek!
Hoekom word sy so behandel? Ongelukkige ma
Ethne Julius, hoofkommunikasiebeampte van die Wes-Kaapse Dept van Gesondheid, reageer:
Op Dinsdagaand 18 Januarie om 21:28 is Samantha Williams deur die verpleegkundige in Paarl Hospitaal se Triage-area gesien. Volgens die SA Triage-groep se formule is sy as “groen” geklassifiseer, maar opgradeer na “geel” a.g.v. pyn.
Sy was teen 02:35 die Woensdagoggend deur die dokter gesien wat bevind het dat daar ’n ongekompliseerde, minor laserasie van die distale deel van die regterwysvinger is - wat nie hegting benodig of regverdig nie. Die wondjie is versorg en die pasient het pynmedikasie ontvang. Sy is ook verwys na haar plaaslike kliniek vir verdere wondsorg en infeksiemonitering.Samantha het op Maandag 24 Januarie die hospitaal weer besoek, nadat sy by ’n private dokter was. Sy was ondersoek en vir X-strale gestuur, wat gewys het dat daar ’n fraktuur van die distale wysvinger is.
Sy is deur die ortopede gesien, wat die wond skoongemaak het, geheg het en haar ontslaan het op orale antibiotika.
Die pasiënt se ma het ’n verskoning van die hospitaal aanvaar. Die geval was ook met die betrokke dokter bespreek om ’n herhaling te voorkom.