DIE Boland Kavaliers pak Saterdag 12 Februarie die DHL Stormers om 18:00 op Nuweland, maar ondersteuners hoef nie te wag vir die afskop van dié jaarlikse losmaker om ’n bietjie ‘Nuweland-gees’ te vang nie.
Die aksie begin reeds 16:45 wanneer Kurt Darren, Sarah Theron en Allistair Izobel die Nuwelandse skare gaan vermaak met ’n paar van hul gewildste liedjies, waarna die Boland Kavaliers en die Stormers onmiddellik hul weg na die speelveld sal maak om hul kleim af te steek vir die splinternuwe ‘Choice Clothing’-trofeë.
Dit sal die eerste keer wees dat dié gewilde, jaarlikse ontmoeting, voorafgegaan word deur ’n konsert van dié kaliber, maar saam met die trofeë is dit ook nie die enigste stukkies geskiedenis wat op die dag gemaak gaan word nie.
Met die Stormers wat verlede week hul nuwe Vodacom Super Rugby-truie aan die land bekend gemaak het, is dit Saterdag die Wynboere se beurt om hul kleure vir die 2011-seisoen ten toon te stel.
Dit sal die eerste keer wees dat die Kavaliers in hul nuwe pienk-kleure die speelveld betree, hoewel môre se weergawe van dié truie effens meer pienk sal wees as die truie waarin Boland in die Vodacombeker-reeks sal meeding.
In die gees van Valentyns-naweek sal die Kavaliers se truie Saterdag hoofsaaklik pienk wees, terwyl die Vodacombeker-truie hoofsaaklik wit sal wees (maar ook met ’n rapsie pienk daarby).
Die hekke van Nuweland maak Saterdag om 15:30 oop. Kaartjies kos R40 (staankaartjies kos R20) en kan op die dag gekoop word by die hekke, of vooraf by Computicket, Boland Rugby se kantore of by WP Rugby. Seisoen- en losiekaartjies geld nie vir dié wedstryd nie. Die wedstryd sal regstreeks uitgesaai word op SuperSport vanaf 18:00.
* Stormers Super Rugby-kaartjies kan by Boland Rugby se kantore gekoop word vanaf 15 Februarie teen R1000 per kaartjie. Dit sluit al agt Vodacom Super Rugby-wedstryde in wat vanjaar op Nuweland beslis sal word (insluitend ’n potensiële Vodacom Super Rugby-kwarteindstryd op Nuweland) asook ’n Boland Kavaliers 2011 Ondersteunerstrui. Vir navrae, kontak 021-873-2317.
Die Bolanders wat Saterdag op die veld draf, is 1. Janro van Niekerk, 2. Clemen Lewis, 3. Rossouw Kruger, 4. Grant le Roux, 5. Hottie Louw (kaptein), 6. Jerry Sefoko/Franzil September, 7. Junior Bester, 8. Zandré Jordaan, 9. Bolla Conradie, 10. Willie le Roux, 11. Brandon April, 12. Alex Kock, 13. PJ Vermeulen, 14. Cornal Hendricks, 15. Jacquin Jansen. RESERWES: 16. Charl van Rensburg, 17. Ashton Constant, 18. Eugene Butterworth, 19. Lehan Koekemoer, 20. Franzil September/Jerry Sefoko, 21. Thor Halvorsen, 22. PJ van Zyl, 23. Japie Wessels, 24. Marnus Hugo, 25. Braam Gerber, 26. Jonathan Francke, 27. Allister Kettledas, 28. Manie Adams en 29. Boena van Rooyen.