MEER as 4000 atlete gaan eerskomende Saterdag aantree om deel te neem aan die tweede 27 vir Vryheid Wedloop-dag by die Drakenstein Korrektiewe Fasiliteit tussen die Paarl en Franschhoek. Organiseerders maan deelnemers om vroegtydig by die wegspringplek te wees aangesien padwerke op die R301 verkeer baie stadig maak.
Die 2011 byeenkoms sal ’n nuwe 27km roete hê (simbolies van die aantal jare wat die eertydse president ’n gevangene was), asook ’n 10km loop/draf wat vir die jeug, bejaardes en korporatiewe inskrywings geskep is.
Die gewilde vryheidsloop/-draf (5km) word ook weer aangebied. Atlete wat vir die 5km wil inskryf, kan dit Saterdagoggend vanaf 04:30 doen.
Die wedloop-dag word afgesluit met die Huisgenoot, YOU en DRUM 27 vir Vryheiddag-konsert.
Daar sal nie net pryse ter waarde van R50 000 wees om te wen nie, maar die algehele mans- en dameswenner sal met ’n spesiaal-gemaakte bronstrofee en ’n soliede goue Mandela-muntstuk wegloop.
Die 27km wedloop begin 06:30, die 10 km korporatiewe wedloop 08:00, die algemene 10km om 08:00, die 5km rolstoel wedren om 08:00, die 5km wedren om 09:00 en die 50m kleuter wedren om 10:00. Die prysuitdeling is om 11:00.
Besoek www.nm27forfreedomrace.co .za of skakel vir Chanelle by 021 872-9799 vir meer besonderhede.