Blokhuis dalk gered
2011-02-10
Johan Nel
DIE historiese ou blokhuis langs die treinbrug oor die Kromrivier buitekant Wellington, gaan uiteindelik van totale verval gered word, danksy ’n splinternuwe bewaringsinisiatief deur ’n groepie oud-soldate van Wellington en omgewing. Die Wellington en Paarlse tak van die Moths, ’n organisasie van Suid-Afrikaanse oud-soldate, het die afgelope week ’n omvattende veldtog van stapel gestuur om die ou blokhuis langs die R44 buite Wellington te restoureer en om toe te sien dat dit in die toekoms beter sal bewaar word. Volgens Siebert de Bruyn van die plaaslike Moths het die blokhuis, wat uit die Anglo-Boereoorlog dateer, oor die afgelope paar jaar erg verwaarloos begin raak. Tot ’n jaar gelede was daar nog sprake dat die departement van openbare werke, onder wie se sorg die blokhuis eintlik val, die waardevolle ou historiese gebou gaan restoureer. Van die planne het daar egter uiteindelik niks gekom nie en die Moths van Wellington en die Paarl het besluit om dringend in te gryp. “Die Moths beskik nie oor geld nie, maar ons lede is vol entoesiasme en gretig om hierdie tamaai uitdaging aan te pak. Die entoesiasme waarmee die publiek op ons restourasieplan gereageer het, oortuig ons dat ons met hierdie projek op die regte pad is. “Ons pak die taak daarom in die geloof aan dat die breë publiek ons met raad en daad gaan ondersteun. Trouens, die reaksie op ons eerste skoonmaak-poging verlede Saterdag by die blokhuis was oorweldigend. “Mense wat ons Saterdag daar sien werk het, het onmiddellik stilgehou en kom kyk waarmee ons besig is. Almal het ons planne met entoesiasme begroet en was dadelik positief teenoor die hele projek,” het De Bruyn gesê. Hy het gesê dat die ou blokhuis ingrypend gerestoureer sal moet word. Die dak is besig om inmekaar te stort en die houtvloer tussen die boonste en die onderste verdieping is, danksy die oop vure van sluipslapers wat snags in die blokhuis skuil, heeltemal weggebrand. Die Moths het reeds begin om ’n groot gholfdag vir 1 Mei by die Wellingtonse Gholfklub te reël om fondse bymekaar te maak vir die restourasiewerk. Meer besonderhede oor die gholfdag kan by Colin Wilmot by 083-751-5181 verkry word en Siebert de Bruyn by 082-474-3959 kan meer inligting oor die restourasieplanne van die blokhuis verskaf.
More
News
|