Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sportvelde herdoop na Klippieshoogte en Doringfontein

Sportvelde herdoop na Klippieshoogte en Doringfontein
 
2011-02-10

Sieb Sieberhagen

VERSKEIE van die Drakenstein Munisipaliteit se sportvelde is in so ’n haglike toestand dat sportlui, spelers en ondersteuners hulle koppe in ongeloof skud.

Dit het al sulke afmetings aangeneem dat ondersteuners van die velde al herdoop het. Pelikaanpark, die basis vir Hillcrest en Roses se rugby, is nou herdoop na “Klippieshoogte” en die New Orleans krieketveld na “Doringfontein”.

Die toestand van die krieketnette by die Parys krieketvelde, waar verskeie besoekende spanne gereeld ’n draai kom maak, is ook ’n seer oog in krieketgeledere.

Vrae word ook gevra oor die toestand van die Daljosafat-stadion waar die room van Suid-Afrikaanse atletiek eersdaags gaan deelneem.

Behalwe verskeie provinsiale byeenkomste word die SA Skole kampioenskappe van 24 tot 26 Maart op dié stadion aangebied.

Justin Watts, voorsitter van die Paarl-Oos Krieketklub, is duidelik nie baie gelukkig met die toestand van die New Orleans krieketveld nie.

“Dit is chaoties hoe dié veld lyk. Dit is heeltemal verwaarloos. In Desember het dié veld glad nie water gekry nie.

“Ons het al op die veld met munisipale amptenare vergader en ons het al verskeie kere met hulle korrespondeer. Maar daar gebeur niks nie. Hulle sê werkers werk onder stresvolle omstandighede,” sê hy.

Maar die sokkervelde reg oorkant die pad, wat deur Monte Christo Ministries gehuur en in stand gehou word, is in ’n uitstekende toestand.

Joslyn Naude, Monte Christo se onderhoudsbestuurder van dié velde, is van mening dat sportvelde baie water, kos op die regte tyd en baie aandag moet kry.

Pelikaanpark, Weltevredenpark en Newton se rugbyvelde is onlangs vir meer as R5 miljoen opgegradeer, maar daar heers baie ongelukkigheid oor die toestand van die velde.

Francois Booysen, ’n getroue Wellingtonse rugby- ondersteuner, is een van baie belastingbetalers wat antwoorde wil hê.

“Ek wil weet wie is verantwoordelik vir die instandhouding van die Pelikaan-sportterrein? Is daar personeel wat verantwoordelik gehou kan word?

“Of is dit maar waaraan ons mense in Wellington moet gewoond raak nadat daar soveel geskiedenis uit ons veld kom?

“My hart breek elke keer wanneer ek Pelikaan besoek en die toestand daarvan sien - in vergelyking met ander velde in Wellington waarna goed gekyk word deur Drakenstein Munisipaliteit.

“Komaan werkers van Drakenstein Munisipaliteit, is julle nie trots op die velde waarop julle kinders moet sport beoefen nie?” vra hy.

May Carolissen, woordvoerder van die Munisipaliteit, sê wat Pelikaan betref, is daar besluit om die opgradering van dié fasiliteit aan te pak deur die A-veld met grassooie te bedek en die oefenvelde met graslote.

“Die probleem is beperkte fondse. Daar is kleiner areas waar die lote nie 100% gevat het nie en dit sal weer ingeplant moet word.”

By Daljosafat-atletiekbaan is sekondêre fasiliteite soos die mediese geriewe, toetsfasiliteite, mediasentrum asook die nuwe tydneempaviljoen op internasionale standaard, maar die baanoppervlakte is te oud om ’n internasionale sertifikaat te ontvang.

’n Kundige sê: “Die baanoppervlakte is nie ideaal nie, maar dit is nog bruikbaar. Wat egter pla, is dat die strepe op die baan baie dof is en dus nie aan internasionale standaarde voldoen nie. Dit gaan ongeveer R300 000 kos om dit oor te trek”.

Carolissen sê dat heelwat geld nou spandeer gaan word om Daljosafat op te gradeer.

“Daar is meer as R100 000 se toerusting aangekoop, wat nette vir die skyfwerphok insluit. Die buitevelde gaan ook opgradeer word teen ’n koste van meer as ’n miljoen rand.

“Die organiseerders is bewus van hoe die baan daarna uitsien. Dit gaan nie oorgebou word voor SA Kampioenskappe nie. Die terrein sal gereed wees,” sê sy.

“Wat die Parys-velde se krieketnette betref, is daar nie op die huidige begroting voorsiening gemaak vir nuwe nette nie, omdat die fasiliteit moontlik gaan verskuif. “

Die Munisipaliteit beoog om verskeie sportklubs van die Parys-veld na die Sanddrift-terrein te verskuif, met die oog op die ontwikkeling van die Paarl Waterfront.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za