Die Arboretum ontaard in gevaarsone
2011-02-10
Lise Beyers
NOG ’n inwoner van die Paarl het ’n slagoffer geword van aanranding in die Arboretum. ’n Vrou is Saterdagoggend daar deur ’n man oorval terwyl sy gedraf het. Sy is teen die grond gegooi en die man het haar gewurg en seksueel probeer molesteer. Sy het haar teëgesit en die man het haar horlosie van haar pols afgeruk en die pad gevat. Sy is na die hospitaal geneem met twee gebreekte ribbes en ’n nekbesering weens die verwurging. Die Arboretum, ’n paradys vir natuurliefhebbers, is aan die oewer van die Bergrivier geleë en is uitgelê met 4500 bome van dwarsoor die wêreld. Die boompark strek 2,8km teen die oostelike oewer van die rivier en is juis destyds tot stand gebring vir Paarliete om die natuurskoon van die gebied te geniet. Maar deur die jare het die Arboretum in ’n nes van onheil ontaard. Talle aanrandings en rooftogte het al hier plaasgevind en haweloses en rondlopers maak hulself hiér tuis. Die nuutste slagoffer, wat om veiligheidsredes nie haar identiteit bekend gemaak wil hê nie, het gesê dat dit tyd is dat die breë publiek druk op die munisipaliteit moet uitoefen om orde te bring na die Arboretum. “Dit is ’n unieke boompark en as dit goed versorg is, kan dit talle toeriste trek. As dit nie vir die feit is dat ek sterk en fiks is nie, kon hierdie aanval soveel erger gewees het. “Daar word bitter min deur die owerhede gedoen om die Arboretum skoon en veilig te hou.” Behalwe die algehele veiligheid van die gebied, word die boompark ook geplunder. Die metaalplaatjies wat die bome geïdentifiseer het, is reeds afgesteel deur skrootdiewe. Hulle is hierna vervang met plastiekplaatjies, maar dié word nou ook afgebreek deur vandale. Dan word bome ook beskadig. In 2008 het die Drakenstein Munisipaliteit ’n projek geloods om die volhoubare toekoms van die Arboretum te ondersoek, waarin juis veiligheid onder die kollig geplaas sou word. Maar sedertdien lyk dit asof hierdie plan doodgeloop het. ’n Woordvoerder van die Drakenstein Munisipaliteit, May Carolissen, het gesê dat daar dringend vergader gaan word met verskeie rolspelers om ’n daadwerklike oplossing vir die Arboretum se probleme te vind. * Another attack has taken place on a woman exercisingin the Paarl Arboretum on the river bank.
More
News
|