Lae hou vir Gim?
2011-02-10
Lise Beyers
BOELIE-TAKTIEK word nou opnuut ondersoek ná die wreedaardige aanval op ’n graad 10 leerder by Hoërskool Gimnasium. Dawid-Hendrik Roux (15), ’n kranige sportman wat vir dié skool se o.19A krieketspan speel, het beweer dat hy verlede Maandagnag in sy koshuiskamer by Huis MacFarlane oorval en so erg geslaan is op sy geslagsdele dat een van sy testikels verwyder moes word. Roux het, ná die aanval, nie die voorval gerapporteer nie, maar sy ouers is Dinsdagoggend deur ’n onderwyser ingelig dat hy siek is. Hy het gebraak en was in erge pyn. Sy ouers het hom Woensdag na Vergelegen Medi-Clinic in Somerset-Wes geneem, waar vasgestel is dat die bloedtoevoer na ’n testikel afgesny is. Die nuus is aan hulle oorgedra dat dit weens die skade verwyder sal moet word. Roux het twee jaar gelede harsingskudding opgedoen, toe hy in ’n soortgelyke aanval beseer is. Volgens die skool is ’n ondersoek hierna geloods en die saak is intern afgehandel, sonder dat enigiemand geskors is. Roux se pa, Riaan, wou vandeesweek nie verder kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie. Wat wel bekend is, is dat hy en sy seun Dinsdag in ’n vergadering gewikkel was met Gimnasium se beheerraad. Paarl polisie se stasiebevelvoerder, brigadier Leon Grobbelaar, het ook vandeesweek met die Roux’s vergader om agter die kap van die byl te kom oor hoe die besering werklik ontstaan het. Roux kon tot dusver nog nie sy aanvallers identifiseer nie, maar ’n klag van aanranding is ingedien by die Paarl polisiekantoor. Talle vrae word nou gevra oor of die besering werklik op die skoolterrein plaasgevind het. Volgens een bron het die voorval nie op die skoolterrein plaasgevind nie, maar wel op Stellenbosch tydens die Jool, waar daar glo alkohol betrokke was. Nog ’n epos wat aan oud-studente uitgestuur is, vertel ’n soortgelyke verhaal. Hierin word daar ook gesê dat sekuriteitskamera-opnames van die gange van Huis MacFarlane reeds noukeurig bestudeer is van die aand van die beweerde gebeure, sonder dat daar enige getuienis is dat ’n aanval by Roux se koshuiskamer plaasgevind het. Skoolhoof James Genis het gesê dat die ondersoek voortduur. Hy is tans nie bereid om kommentaar te lewer totdat die volle waarheid bekend gemaak word nie. Op die skool se webwerf is die volgende verklaring uitgereik deur die voorsitter van die beheerliggaam, JJ Niemand: “Ons voorlopige ondersoek het geen nuwe feite aan die lig gebring wat enige van die beweringe staaf of ’n verdagte uitwys nie. “Intussen gaan ons voort om verdere ondersoek te doen ten einde alle moontlike feite in te win.” ’n Woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Millicent Merton, het bevestig dat die departement die saak in ’n ernstige lig beskou. “Amptenare van die departement het reeds die skool besoek en onderhoude gevoer met leerkragte en leerders.” * A Gymnasium student landed up in hospital after an assault.
More
News
|