Landbouskool pronk
2011-02-10
NIE net is Hoër Landbouskool Boland op ’n plaas geleë waar toekomstige landbouers opgelei word nie, maar nou is die jongmanne van plan om hul eie wyn te produseer. ’n Blink wynkelder is so pas voltooi op die plaas en die eerste druiwe hiervoor word tans gepars. Die konsep van ’n eie wynkelder gebore nadat die skool in samewerking met Elsenburg Landbou Kollege ’n wynkundekursus begin aanbied het. Toe het oudskolier, Bartho Eksteen (wynmaker by Hermanuspietersfontein Wynkelder), ingetree. Eksteen is verlede jaar aangewys as die Diners Club Internasionale Wynmaker van die Jaar en as gevolg hiervan, is befondsing bekom wat die skool in staat gestel het om hul droom van ’n wynkelder- en opleidingsfasiliteit by die skool ’n realiteit te maak. Dus staan die kelder nou amptelik bekend as die Diners Club/Bartho Eksteen Wyn-akademie. Die blink kelder beskik oor die modernste wynmaaktoerusting wat met die hulp van talle maatskappye en individue moontlik gemaak is. Daar word steeds bespiegel oor die naam van die wyne, maar daar word gehoop dat die eindproduk se kwaliteit van so ’n aard sal wees dat die verkoop daarvan fondse sal inbring vir die skool. En verlede week op 2 Februarie is die eerste druiwe vir die kelder gepars, op die presiese dag 352 jaar nadat Jan van Riebeeck die eerste wyn in die Kaap, en tien teen een in Afrika, gemaak het. * The Boland Agricultural High School is now making wine in a brand new wine cellar.
More
News
|