DIT is met misnoeë dat ek lees van die verwoesting by Weltevrede Sekondêre Skool (Paarl Post, 3 Februarie).
’n Paar weke gelede het ons kantoor twee maal in een week deurgeloop onder metaaldiewe. By die tweede geleentheid is koperpype in die mure afgebreek wat daartoe gelei het dat die gebou oorstroom het.
Totdat die polisie die kopers van skrootyster tot die maksimum vervolg, sal hierdie probleem net vererger. Myns insiens moet die ministerie ingryp om hierdie probleem hok te slaan.
Diefstal van telefoon- en kragkabels is besig om besighede lam te lê. Skole, en dikwels dié in mindergegoede areas, word verwoes.
Geld wat aan beter opvoeding van kinders bestee kan word, word nou spandeer om te lap waar hierdie vandale doenig was.
Fondse van regeringsinstansies om skade te herstel vat maande tot jare om te mobiliseer en intussen moet hierdie kinders in onmenslike toestande onderrig ontvang.
Ek hoop van harte dat diegene wat in die plaaslike verkiesings staan, dit hulle missie sal maak om hierdie kriminele vas te vat.
Min geduld