EK was nou al verskeie kere by die Paarl Hospitaal met my eggenoot wat afhanklik is van ’n rolstoel.
Dit maak nie saak hoe vroeg of laat jy in die oggend daar kom nie, die parkeerplekke vir gestremdes is altyd volgeparkeer en nie deur motors met ’n gestremde skyfie nie, nee dis dokters en verpleegpersoneel wat daar parkeer.
’n Mens sou dink dat hulle juis meer bedagsaamheid aan die dag sou lê, maar nee wat. Jy moet maar sukkel terwyl hulle wat albei hul bene het, tog net nie so ver hoef te loop nie.
Die sekuriteit is net so hopeloos, want hulle trek net hul skouers op as jy kla. Ek hoop iemand kan iets aan die saak doen.
J Lourens
Ethné Julius van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid reageer: Die sekuriteit wat diens by die hospitaal se ingang doen, kan nie die parkeerareas beheer, sonder om hul dienspunt en die mataalverklikker by die hoofingang te verlaat nie.
Dit is so dat personeel en besoekers partykeer op die parkeerareas vir gestremdes parkeer. ’n Interne kennisgwing sal uitgestuur word om personeel daarop te wys dat die geoormerkte parkeerareas ter sprake, slegs vir persone met gestremdhede bedoel is.
Daar sal versoek word indien die sekuriteit sien hoe sekere van die hospitaal se personeel daar stilhou, hulle die personeellid moet aanspreek en rapporteer aan bestuur sodat dit aan die betrokke personeellid se toesighouer deurgegee kan word.
Integriteit en Medelye is twee van die Departement se ses waardes en die parkeer op parkeerareas vir persone met gestremdhede, deur nie-gestremde personeel is beslis strydig met die uitleef van die twee waardes.
Paarl Hospitaal beskik nie oor die sekuriteitsmannekrag of toerusting om wiele te klamp nie en die hantering van besoekers wat wederregtelik op die parkeerplekke parkeer is moeiliker om aan te spreek. Ons doen dus ’n beroep op die publiek in die algemeen om tot voordeel van persone met gestremdhede van Paarl Hospitaal op te tree, terwyl die hospitaal sy eie personeel sal monitor.