Dis Jannie en die Tannie
2005-10-13
’n LEWENSWYSE troebadoer, ’n effe afwesige pianis, ’n gekookte eier en ’n klomp misverstande. Dis die resep vir ‘Jannie en die Tannie’ - Christa Steyn en Jannie du Toit se nuutste musiekproduksie.
Dit is op die planke tydens die Stokkiesdraai-Kunstefees op Wellington, op Donderdag 27 Oktober om 20:00 in die CP van der Merwe-saal.
‘Jannie en die Tannie’, vertel die verhaal van twee karakters wat saam uit hulle misverstande leer dat humor die seer kan versag, en dat liefde in die kleinste gebaar van menslikheid teruggevind kan word.
Musiek uit die penne van die twee kunstenaars, asook keurige plaaslike en oorsese materiaal, dra by tot die toehoorder se emosies wat deurlopend skoppelmaai ry.
Dit is die soort vermenging van lag en traan wat uiteindelik by die gehoor die gevoel laat dat ’n bietjie vertroue in die mensdom tog nie so misplaas is nie - kortom: lekkerkry-musiekteater.
‘Jannie en die Tannie’ het gehore vanjaar op Oudtshoorn en sedertdien op tientalle plekke dwarsoor Suid-Afrika laat skaterlag en aangegryp.
Kaartjies kos R40 by Computicket, 083-915-8000.
More
News
|